As 19-jarige mediese student het sy op ’n dag, erg deurmekaar en op haar eie, Stellenbosch se strate ingevaar. Hier het haar bekommerde koshuismaats haar in die donker, verward en dalk histeries gevind.
Later in die hospitaal het die dokter iets verduidelik van “jou brein het letterlik ontplof, jy het maniese depressie”.
Sy het gehoor, maar niks het geregistreer nie, sy het nie logies gedink nie en was buite haarself . . .
Vir Marchell Gordon van Mamre is 24 Oktober 1996 ’n dag wat sy vir altyd sal onthou. Dis die dag toe haar stryd met bipolêre gemoedsversteuring begin het.
Bipolêre gemoedsversteuring, ook bekend as maniese depressie, is volgens ’n berig in Huisgenoot (Jou kind en bipolêre steuring, 26 Mei 2014), ’n toestand wat die brein beïnvloed. “Mense met bipolêre gemoedsversteuring ervaar ongewone gemoedskommelinge. Soms voel hulle gelukkig of opgewek en aktiewer as gewoonlik. Ander tye voel hulle baie ongelukkig en teneergedruk en is minder aktief as gewoonlik – dit word depressie genoem,” lees die artikel.
Marchell vertel met die high-tye is jy grasieus en het ’n onwerklike denkwyse.
“Jou kop sal byvoorbeeld vir jou sê jy is die koningin van Engeland. Iewers binne jou weet jy dis nie waar nie, maar jy het nie beheer oor jou gedagtes nie.
“In dié fase kan jy selfs onverantwoordelik optree deur op shopping sprees te gaan sonder om te dink aan die gevolge.”
Volgens Marchell, is daar ’n algehele gevoel van alleenwees in die depressietyd en toon sommige ook selfdoodneigings. Simptome verskil van persoon tot persoon.
“Ek het vir ’n lang tyd met die siekte saamgeleef en nie geweet hoe om daarmee te cope nie.
“Die dokter het net gesê ek gaan baie ondersteuning nodig hê,” vertel die nou 41-jarige vrou.
Dié ondersteuning het sy van haar ouers en twee broers gekry.
“My ma was vir my soos ’n kruk op wie ek kon steun. My pa was my pilaar. My ouers het begin boeke lees en flieks oor depressie gekyk sodat hulle kon verstaan waardeur ek gaan en hoe om my te ondersteun.”
Nou na ’n 21 jaar na haar diagnose sien Marchell ook hoe bipolêre steuring haar lewe in ’n positiewe manier beïnvloed het.
“Ek was altyd ’n baie ernstige mens. Daar was nie tyd vir grappe nie. Noudat ek behandeling vir bipolêre gemoedsversteuring kry, kan ek my uitleef. Ek kan nou hardop lag.”
’n Jaar na sy gediagnoseer is, het sy op 22 weke uitgevind sy is swanger.
“Ek het ’n bleeding pregnancy gehad, dus het ek nie geweet ek is swanger nie en steeds medikasie gebruik. Maar dank die Vader my seun is perdfris en gesond gebore.”
Dit wat haar vinnig omkrap, is spanning. In 2002 het Marchell besluit om sielkunde aan Unisa te studeer.
“Ek het voltyds gewerk en was ’n ma toe ek die groot stap geneem het.”
Dit het haar byna 14 jaar geneem, maar 8 Oktober 2016 het sy uiteindelik haar graad gekry.
Daar was baie uitdagings, maar sy voel uiteindelik of sy ’n goeie balans handhaaf.
“Ek moet elke dag my medikasie drink. Ek probeer om spanningsvolle situasies te vermy en ’n gesonde leefstyl te handhaaf deur te oefen en gesond te eet.”
Oktober is geestesgesondheidsbewusmakingsmaand en met haar verhaal hoop Marchell om die wanpersepsies van geestestoestande hok te slaan.
Die jong ma droom om eendag haar doktorsgraad in sielkunde te voltooi en wil graag kliniese sielkunde doen om sodoende andere te help om hul siekte te verstaan.
. Vir meer inligting oor bipolêre steuring of ander geestestoestande kontak die South African Depression and Anxiety Group by 0800 70 80 90 of besoek www.sadag.org




