Met Dag Zero in sig sukkel inwoners van die Neptune Castle-woonstelle steeds met kosbare water wat hulle tot sewe keer per dag moet wegvee.

Volgens Magda Jacobs (47) lek omtrent al die inwoners in die woonstelblok se krane, die foute is reeds baie keer by die Stad Kaapstad aangemeld, maar die inwoners wag steeds vir ’n loodgieter.

“Ons moet elke dag hoor van die waterskaarste, maar kyk hier,” wys sy na water wat weer besig is om in haar badkamer op te dam. Die omgekrapte vrou skel dat haar teëls al besig is om los te kom en wonder of die Stad haar geld gaan terugbetaal.

Benewens die krane wat lek, is van die buiteligte ook stukkend – die gebied is ook bekend vir bendebedry­wig­hede en die inwoners meen dus die donkerte hou gevaar in.

Inwoners beweer ook dat die Stad nie die gebied skoonmaak nie en dit lyk soos “ ’n varkhok met vullis­hopies, wat oral lê”. Nog ’n inwoner, Lena Swartz, vertel dat hulle self al ingespring en die woonstelblok skoongemaak het, omdat die kinders tussen die vullis begin speel het. Volgens die moedelose Swartz moes sy ook al ’n week se onbetaalde verlof neem omdat munisipale amptenare haar glo belowe het dat haar plafon en lekkasies reggemaak sou word. Hulle het egter nooit opgedaag nie.

Rigarth Hartzenberg het aan Weskus Nuus gewys hoe die plafon bo sy sieklike stiefpa se bed enige oomblik op die man kan val. “Hulle bly net sê hulle gaan kom, maar niks gebeur nie,” het Hartzenberg gesê.

Greg Evans, woordvoerder van die Stad Kaapstad het nie Weskus Nuus se vrae beantwoord nie en net gesê lekkasies en beskadigde eiendom van munisipale huureiendomme kan by die Stad se dienssentrum aangemeld word op 086 010 3089 of inwoners kan ’n SMS na 31373 stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article