Lede van die Khoi-San waar hul voorouers meer as 200 jaar gelede gewoon het.Foto’s: Murphy Roberts


Mamre, voorheen Groenekloof, is die tweede oudste Morawiese sendingstasie in Suid-Afrika en het die afgelope naweek sy historiese 200 jaar vieringe afgesluit.

Die gemeente bestaan wel reeds 210 jaar. Die fees, wat twee maande geduur het, is Sondag met ’n ere- en doopdiens in Louwskloof afgesluit. Ongeveer 1 200 mense het die diens bygewoon.

Dié diens is gehou op die presiese plek waar die eerste diens onder die populierbome op 27 Maart 1808 gehou is. Die diens in 1808 is deur eerw. Johann Khorhammer gelei en ongeveer 100 lede van die Khoi-San, onder leiding van kaptein Hans Klapmuts, was teen­woordig.

Khorhammer en Johann Schmitt, twee Morawiese sendelinge wat in Genadendal gestasioneer was, het 24 Maart 1808 in Groenekloof (grondge­bied van die Khoi-San) aange­kom. Kaptein Hans Klapmuts se suster, Rosetta Klapmuts, het later as die Moeder van Groenekloof bekend gestaan onder die naam Benigna, omdat sy die inwoners met alles bygestaan het en is sy in 1813 hier op dieselfde plek waar die diens plaasgevind het, op 62-jarige ouderdom gedoop.

Die hoeksteen van die kerkgebou is in 1816 gelê en Sondag 8 Februarie 1818 is die kerk amptelik ingewy.

Volgens Charles Titus, feeskoördineerder het die kerk die Marcusson-orrel op Sondag 27 November 1887 in gebruik geneem en 120 jaar later gebruik die gemeente steeds dieselfde orrel. Volgens Titus het die fees reeds 4 Februarie in die oudste sendingstasie, Genadendal begin, omdat die twee dorpe met ’n geestelike-naelstring verbind is.

Inwoners van Mamre kon ook Saterdag hul tente opslaan en ’n stofdans was gehou waarna daar lekker om die vure gekuier is.

Volgens Adriaan Jonkers van die Khoi-San, is dit ’n emosionele geleentheid vir die stam omdat hul voorouers hier gebore is en het in sy toespraak het hy die Morawiese kerk bedank omdat hulle die stam erken as die eerste inwoners van dié gebied.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article