Atlantis het verlede week soos ’n oorlog­sone geklink nadat ’n oor-en-weer- geskie­tery tussen twee bendegroepe uitgebreek het.

Maandag 16 September is twee mense ernstig gewond in twee afsonderlike skietvoorvalle in die Dura-woonstelle en Avondale.

Dinsdag 17 September is een persoon in Proteapark doodgeskiet en ’n rits voorvalle het gevolg. Woensdagoggend het pandemonium by die Dura-woon­stelle uitgebreek toe onbekende mans op inwoners losgebrand het, maar gelukkig is niemand beseer nie.

Dié skietery het na verskeie dele van Atlantis oorgespoel en een persoon is by die Edenburg Place-woonstel doodgeskiet.

Die polisiebeamptes het hul hande vol gehad toe ’n oor-en-weer-geskietery dieselfde dag weer by die Dura- en Heathfield-woonstelle uitgebreek het.

Inwoners was op sosiale media gevra om dié pad te vermy en niemand is in die voorval beseer nie. Volgens ’n be­troubare bron was die voorvalle wraak­aanvalle ná die vorige skietvoorvalle.

Inwoners van die Dura-woonstelle het aan Weskus Nuus gesê hulle is woedend omdat daar op onskuldige mense geskiet is.

“Hier het al so baie onskuldige mense die prys betaal en nie almal van ons wat hiér woon is by bendes betrokke nie.”

Nóg ’n inwoner het gesê: “Jy is te bang om ’n voet buite te sit.” Die inwoners het ingestem om met Weskus Nuus te praat op voorwaarde van anonimiteit uit vrees vir hul lewe.

Volgens die provinsiale polisiewoord­voerder, Siyabulela Malo, is niemand nog aangekeer vir die moorde nie en die polisie ondersoek verskeie klagtes van moord en poging tot moord.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article