Die Mayoral Urban Regeneration-program (MURP), wat miljoene rande se opgraderingsprojekte insluit, is onlangs deur subraad 1 goedgekeur.
Raadslede van die plaaslike subraad het by ’n spesiale vergadering Vrydag 27 September projekte goedgekeur wat gemik is om “vorige agtergeblewende gemeenskappe te bevoordeel”.
Die program is in 2012 van stapel gestuur.
Volgens raadslid Cynthia Clayton, voorsitter van subraad 1, is R96 miljoen in die 2019-’20 boekjaar aan die 24 subrade toegeken met ’n gelyke verdeling vir elkeen.
Subraad 1 het R4 miljoen ontvang wat onder meer gebruik sal word om bykomende wetstoepassers aan te stel.
Clayton sê die grootste hap van die begroting, R1,2 miljoen, sal gebruik word vir ses beamptes wat in Atlantis se sakekern ontplooi sal word. Dan sal R700 000 aangewend word vir die opgradering van Atlantis en Mamre se sakekorwe.
Die res van die begroting sal onder meer aan ’n kunsprojek bestee word. “Altesaam 30 jong mense sal opleiding in kuns en kultuur ontvang. Die Atlantis-jeuguitstalling sal ook van Saterdag 21 Desember tot die eerste week in Januarie by Silwerstroom-strand gehou word waar opkomende kunstenaars hul produkte kan verkoop,” vertel Clayton.
Ander projekte is onder meer die afkap van bome in beboste gebiede terwyl plaasbuurtwagte ook ’n gedeelte van die begroting kry om toerusting aan te skaf.
Die nagmark sal vanjaar ook weer op die kalender wees. By die mark kan informele handelaars en klein sakeondernemings vir twee dae hul produkte uitstal.


