Ongeveer 130 leerders se daaglikse roetine is ontwrig danksy skurke wat nie hul sin kon kry met ’n inbraak by Saxonsea-kleuterskool nie. Nou moet ouers ander heenkome vir hul kinders vind.
“Die skool het brandskade opgedoen nadat kwaaddoeners probeer het om die plek af te brand toe hulle nie toegang tot die skool kon kry nie,” verduidelik die hoof, Belinda Jooste.
Volgens Jooste het hulle Donderdagoggend 10 Oktober op die toneel afgekom nadat hulle die skool oopgesluit het.
“Rook het meer skade as die vlamme aangerig en ons moes die kinders huis toe stuur,” vertel sy. “Ons het ’n smeulende vuur onder die venster, waar die verdagte wou kom, gekry. Hulle kon egter nie toegang tot die skool kry nie.”
Haar vermoede is dat die kwaaddoeners toe ’n brandende voorwerp op die tafel gegooi het waar die kinders se boeke is.
“Ons is net dankbaar dat daar nie erger brandskade is nie, maar niemand sal die ontwrigting verstaan nie,” kla sy.
Volgens Anthea Westfall, ’n onderwyser by die skool, is die plafonne nou pikswart en die personeel is besig om alles skoon te maak. Westfall sê dit gaan ’n maand neem om die plek weer piekfyn te kry terwyl onderrig nie sal kan voortgaan nie. “Ons probeer hard om ’n alternatiewe plek te kry en die wyksraadslid was baie behulpsaam,” vertel sy. Volgens raadslid Cynthia Clayton het sy probeer om die kleuterskool by die Thusong-sentrum te huisves, maar dit voldoen nie aan die vereistes nie. “Ek het die personeel gevra om aan ’n plek te dink sodat ons hulle kan bystaan,” voeg sy by.
Dit is die tweede geval in weke waar inbrekers plekke aan die brand steek as hulle nie iets waardevols of toegang kan kry nie. In die laaste uitgawe het Weskus Nuus berig oor die Smith-familie van Beacon Hill wat ook dakloos gelaat is nadat inbrekers hul motorhuis aan die brand gesteek het. Volgens kapt. Cyril Dicks, ’n polisiewoordvoerder, word ’n klag van brandstigting ondersoek. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.





