Voormalige proporsionele raadslid, Gregchan Bernado.Foto:


“Bruin leiers in die DA word geteiken om plek te maak vir wit raadslede.”

Só meen die voormalige DA-propor­sionele raadslid, Gregchan Bernardo.

Dié storm is ontketen ná pogings om ook van die subraadvoorsitter, Cynthia Clayton, van dié posisie te onthef.

Clayton het vroeër die maand glo ’n brief van die party se hoofsweep, Desiree Visagie, ontvang waarin sy gevra is om haar pos te ontruim en vrywillig te bedank. Weskus Nuus het vertroulik verneem dat daar nog ander subraadvoorsitters is waarvan die party wil ontslae raak.

Clayton wou nie bevestig of sy gevra is om as subraadvoorsitter te bedank nie, maar het wel gesê “sy is besig met ’n regsproses” en Visagie wou nie kommentaar daaroor lewer nie.

Grant Twigg, streekvoorsitter vir die DA en burgemeesterskomiteelid vir area-noord, waaronder Atlantis val, het ook onlangs ’n mosie van wantroue teen hom oorleef.

Volgens Bernardo verbaas dit hom glad nie, want dit is presies wat hy as raadslid ervaar het.

Bernardo sê dit is duidelik dat topposisies net vir wit lede van die DA bestem is.

Dít was vir hom bevestig toe die provinsiale leierskap van die party onlangs glo ingegryp het toe daar ’n mosie van wantroue teen JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, ingedien is.

Smith het egter aan Weskus Nuus gesê daar was geen “inmenging” nie, en die mosie is onttrek.

Weskus Nuus het met die betrokke raadslid wat die mosie teen Smith ingedien het gepraat en hy wou nie bevestig of sy mosie wel onttrek is nie.

Weskus Nuus het ook vir Smith, wat die party se adjunkkoukus­leier in die Kaapse-metro is, gevra of hy dink daar ’n beweging is om van bruin leiers ontslae te raak, waarop hy gereageer het “mense sal baie dinge sê om die DA te diskrediteer.”

Smith het ook op sy beurt gesê die “korrekte prosedure is gevolg om Clayton te vervang”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article