Die jaarlikse Kansa Relay for Life in Mamre het Saterdag 26 Oktober hulde gebring aan slagoffers en oorwinnaars van dié siekte met die voormalige Springbokafrigter, Pieter de Villiers, as hoofspreker.
De Villiers, of Snorre soos hy ook bekend staan, het ’n bemoedigende boodskap gehad. “Kanker is nie ’n doodvonnis nie,’ het hy aan die gaste gesê.
Hy sê toe hulle as gesin die tyding gekry het dat hul dogter kanker het, het hy die Here bedank dat sy ’n “mediese kanker” het wat genees kan word en nie ’n kanker van haat, jaloesie en afguns nie.
“Onthou God beproef ons omdat hy ons liefhet,” het Snorre onder luide applous gesê. Met ’n rugbygees het Springbok-ondersteuners in hul hordes opgedaag op die vooraand van die Bokke se halfeindstryd teen Wallis.
Snorre het ook gevra dat hulle tog versigtig moet stap, want die land het hul ondersteuning nodig. Aan die All Black-ondersteuners het hy grappenderwys gesê hulle moet stap soos hulle wil, want niemand het hulle nodig nie. Verskillende gemeenskapsorganisasies het ook hul ondersteuning gewys.




