Atlantis het Saterdag 2 November, met die 2019-rugbywêreldbeker-eindstryd tussen die Springbokke en Engeland in Japan, vir 80 minute soos ’n spookdorp gelyk.
Inwoners het gewys waar hulle lojaliteit lê met groen en goud net waar jy kyk. Inwoners en motors het die strate ingevaar om die Springbokke se oorwinning te vier nadat die Bokke die Engelse behoorlik gegaffel het en die wedstryd maklik met 32-12 gewen het.
Terwyl tjoppies op die kole gebraai is en die voggies die gees opgebou het, het familie, vriende en bure gewys hulle staan bankvas agter die Springbokke. Dansende inwoners was oral in die strate te sien en kuierplekke het behoorlik uit hul nate gebars.
Volgens André Julius, wat die wedstryd saam met familie gekyk het, het hy nooit getwyfel oor die uitslag nie. Raymond Roberts, wat al die pad uit St. Helenabaai in Atlantis kom kyk het, sê dit was wonderlik om die oorwinning saam met sy seuns te vier.




