Die Children’s Radio-stigting en verskeie Atlantis-organisasies het Saterdag 7 Desember ’n optog teen geslagsgeweld gehou.
Volgens Monique Hansen, projekkoördineerder van Radio Atlantis, was die doel van dié optog om mense bewus te maak van geslagsgeweld soos aanranding, teistering, mishandeling en afknouery van vroue en jong meisies.
Hansen sê mense moet besef “nee, beteken nee” en dat daar teen mishandeling opgestaan kan word. Sy sê voorts mans wat veronderstel is om die “sterker persoon” te wees, kan ook slagoffers van mishandeling wees. Die bewusmakingsprojek is deur Radio Atlantis van stapel gestuur.
“Ons het die afgelope 16 dae met 16 mense oor die kwessie van mishandeling gepraat en video’s is op sosiale media geplaas,” vertel sy.
Die verslaggewers van Radio Atlantis het gevoel dit is hulle werk as jong mense om die kwessie aan te spreek. “Ons wil meer meisies aanmoedig om geweldadige situasies en verhoudings te vermy,” verduidelik Hansen.
“Ons wil ook jong seuns aanmoedig om die verskil tussen reg en verkeerd van jongs af te ken en vroue te beskerm in plaas daarvan om hulle te probeer besit of aan te val.
“Met die verskillende T-hemde wou ons simboliseer hoe ons in die gemeenskap praat met verskillende frases soos ‘Nagani vir rapists’, ‘Miniete vir Abusers’ en ‘Hou jou hande van my lyf af’. Ons glo dit trek meer aandag,” meen Hansen.
Die groep het ook oranje ballonne vrygelaat ter nagedagtes van slagoffers van geweld.




