Die eerste Atlantis- kuns- en handvlyt-uitstalling vir die jeug was ’n reusesukses.
Só meen Wessie van der Westhuizen, bestuurder van subraad 1.
Dié geleentheid het op 28 Desember by die Silwerstroom-strandoord buite Atlantis plaasgevind en het verskeie jong plaaslike entrepreneurs ’n geleentheid gegee om hul produkte uit te stal en te verkoop.
Volgens Van der Westhuizen het die gedagte vir die uitstalling van ’n plaaslike jeugleier, Michael Marote jr., gekom en het hy onmiddellik die idee ondersteun.
“Dit was ’n eerste, maar dié uitstalling gaan beslis ’n jaarlikse instelling word en sal hierdie jaar groter en beter wees,” sê Van der Westhuizen opgewonde.
Plaaslike platejoggies het die jongspan vermaak terwyl skuim die wêreld vol gespuit is. Volgens Marote jr. is hy baie tevrede met die eerste uitstalling veral omdat slegs plaaslike inwoners betrokke was. Van der Westhuizen sê die raad gaan kyk om die geleentheid hierdie jaar nader aan die mense van Atlantis te bring sodat meer mense betrokke kan raak.
“Ek moet Marote bedank vir die briljante idee asook Radio Atlantis wat die geleentheid gereël het deur die platejoggies, skoonmakers, sekerheidsbeamptes en kos vir die dag te reël. Dit is ’n duidelike teken dat Atlantis baie potensiaal het,” voeg Van der Westhuizen by.


