Verskeie plaaslike organisasies het na die Atlantis-polisiekantoor opgeruk om hul stemme dik te maak oor ’n senior polisiebeampte wat vir seksuele teistering aangekla word.

Meer as ’n 1 000 mense het ’n petisie onderteken wat eis dat die betrokke polisiebeampte onmiddellik uit sy posisie verwyder moet word. Die petisie is op 9 Januarie oorhandig aan majoor-generaal Felix Mbeki van die polisie se provinsiale kantoor by die Atlantis-polisiekantoor terwyl meer as 300 inwoners voor die gebou betoog het.

Gemoedere het by tye hoog geloop toe ongeveer 50 inwoners van Witsand hul steun aan die betrokke polisiebeampte gedemonstreer het. Volgens Zibongile Gexa, voorsitter van die Suid-Afrikaanse nasionale burgerlike organisasie (Sanco) in Witsand, het die man die misdaadsyfer in die gebied laag gehou en hy voel die polisieman verdien ’n regverdige verhoor.

Volgens Rina Muller van Stop the Silence, ’n nieregeringsorganisasie wat geweld teen kinders en vrou teenstaan, stipuleer die petisie duidelik dat hy verwyder moet word en sy sê sy verwag ’n positiewe uitkoms binne sewe dae.

Muller sê die aanklagte is baie ernstig en sy glo die polisieman kry spesiale behandeling.

“Enige ander persoon met dieselfde klag teen hom, sou al in die hof gewees het,” het sy gesê.

Volgens Lucinda Evans van die Philisha Abafazi-organisasie, is geen vroulike polisiebeampte van Atlantis veilig terwyl die betrokke man by die polisiekantoor werk nie.

“Hy is veronderstel om vroue te beskerm, maar verkies eerder om vroue uit te buit,” het Evans bygevoeg.

Majoor-generaal Felix Mbeki van die provinsiale kantoor het die petisie en memorandum ontvang en het gesê die polisie gaan nie voor die tyd op die media se navrae reageer nie.

Sanco het ook ’n petisie oorhandig waarin hulle vra dat die beampte moet aanbly.

Die polisie het egter kort ná die betoging in ’n verklaring aangekondig dat die polisielid intussen na ’n ander kantoor verskuif is sodat die ondersoek onverhinderd kan voortgaan. Hulle het in hul aankondiging ook genoem ’n tussentydse stasiebevelvoerder is intussen by die Atlantis-polisiekantoor aangestel om waar te neem.

Volgens brigadier Novela Potelwa sien die polisie die bewerings in ’n ernstige lig daarom is twee senior offisiere aangestel om die interne dissiplinêre en strafregtelike ondersoeke te doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article