Die senior polisiebeampte van Atlantis wat van seksuele teistering verdink word, is vir eers na ’n ander polisiekantoor oorgeplaas.
Hierdie aksie is geneem nadat verskeie organisasies wat die polisiebeampte se onmiddellike verwydering eis, ’n petisie aan provinsiale polisie-leiers oorhandig het.
Die herrie het verlede jaar begin toe ’n vroulike konstabel haar senior kollega se beweerde seksuele teistering aangemeld het. Die senior polisiebeampte het na bewering vir die vroulike kollega ’n WhatsApp-boodskap gestuur waarin hy haar ’n n****r en t**f genoem het nadat hy glo aangedring het dat sy vir hom foto’s van haar geslagsdele stuur.
Kort ná die bom verlede jaar gebars het, het ’n lid van die publiek (29) in ’n emosionele onderhoud aan Weskus Nuus, vertel hoe sy reeds vir meer as tien jaar ’n slagoffer van dieselfde polisiebeampte is. “Alles het begin toe ek 18 jaar oud was. Hy het my ’n geleentheid huis toe gegee,” het sy vertel.
“Hy het my betas en my hand op sy privaat dele gesit waarna hy ’n R10 in my hand gestop het. Ons het op daardie tydstip finansieel baie gesukkel en hy het ons situasie uitgebuit om my seksueel te misbruik.
“Ek kon destyds niks sê nie, want hy het my gedreig en ek moes aan my familie dink. Hy het gereeld kos na ons huis aangedra sodat hy my kan betas,” het sy vertel.
Die slagoffer het verder gesê dat sy nooit die vrymoedigheid gehad het om met iemand oor haar nagmerrie te praat nie en dat sy haar bes gedoen het om die polisieman te vermy.
“Ek moes ongelukkig ’n paar maande gelede na sy kantoor gaan om dokumente af te haal. Toe hy dit weer doen, het ek besluit ek het genoeg gehad. Ek het moed bymekaar geskraap en ’n klag teen hom aanhangig gemaak.
“Volgens kol. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, word daar tans twee klagtes teen die betrokke polisiebeampte ondersoek.




