Dis amptelik. Die koronavirus, of Covid-19, is nou in die Wes-Kaap ook.
Dié nuus is verlede Woensdag deur dr. Zweli Mkhize, nasionale minister van gesondheid bekend gemaak. Volgens die jongste inligting was daar 61 bevestigde gevalle van Covid-19 in die land.
Vir sommige Weskussers is die gevreesde virus nou hopeloos te naby aan hul voorstoep.
Inteendeel, hulle was al verlede week paniekerig weens die Kaapse pasiënt wat voorgegee het dat hy moontlik die virus het, sodat hy voor ander mense mediese behandeling kon kry.
Mark van den Heever, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het hierdie pasiënt se optrede sterk veroordeel.
Reeds verlede week het bekommerde inwoners met Weskus Nuus gekontak gemaak met vrae oor plaaslike gereedheidsplanne en wou weet of die virus na die gebied kan versprei via al die buitelandse skepe wat die hawe aandoen.
Handreinigers vlieg van die winkelrakke af
Dit blyk inwoners wil hulself voorberei op die ergste, want daar is gewis ’n verhoogde bewustheid van goeie higiënegewoontes onder inwoners, gemeet aan die feit dat heelwat winkels se waterlose handreinigers oor die naweek heeltemal uitverkoop is.
Die ander handelsmerk was steeds op daardie tydstip uitverkoop en die winkel se verskaffers het nie voorraad gehad nie. Dit is bekend dat goeie higiënepraktyke die verspreiding van verskeie siektes kan voorkom, maar is daar werklik rede vir paniek?
Só lyk die statistieke
Die nuutste statistieke oor die virus word deurlopend aanlyn op worldometers.info bygewerk. Nuwe inligting word aan die einde van elke dag bygevoeg. Maandagoggend, voor druktyd, was daar volgens hierdie webtuiste wêreldwyd 170 438 bevestigde gevalle van die virus en 6 526 sterftes. Van die 170 438 gevalle was 86 122 aktiewe gevalle (mense wat tans besmet is).Is die plaaslike owerhede werklik gereed?
Gesondheidsdepartement
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid sê hy is gereed sou daar ’n groot uitbraak van die virus hiér wees.
“Ons doen ’n beroep op almal om kalm te bly en gewone maatreëls vir die voorkoming van infeksies soos handhigiëne en hoes-etiket te volg.”
Dít was Van den Heever se versoek aan die publiek in ’n persverklaring van die departement van gesondheid wat Vrydag uitgereik is.
“Enige versoek van die gesondheidsowerhede vir kontaktoetsing en isolasie moet asseblief ondersteun word indien nodig. Ons kan inwoners verseker alle provinsiale gesondheidsowerhede handhaaf deurlopend ’n hoë vlak van gereedheid en dat hawens gemonitor word.
“Provinsiale en nasionale noodsentrums sal leiding gee oor verdere maatreëls om die verspreiding van die virus te beperk,” het hy verklaar.
Monitering by Saldanha-hawe
Transnet het in ’n poging om die publiek gerus te stel, ’n persverklaring uitgereik waarin hy noem bykomende maatreëls en protokol by sy hawens (wat Kaapstad en Saldanha insluit) is ingestel om die verspreiding van die virus te voorkom.
Hierdie maatreëls sluit onder meer in dat geen bemanning van ’n boot mag afklim voordat die hawe se gesondheids-personeel goedkeuring gegee het nie. Wanneer infeksie wel op ’n boot geïdentifiseer is, mag die boot vasmeer, maar niemand mag afklim totdat verdere ondersoek ingestel is nie.
Alle afval van bote wat uit die geaffekteerde gebiede na ’n plaaslike hawe reis, sal verbrand word.
Geen vloeistowwe of kos wat op bote uit ’n hoërisikogebied geberg word, mag deur Suid-Afrikaners ingeneem word nie.
Alle seiljagte wat by ’n hawe aandoen, moet eers by die polisie en hawegesondheid aanmeld, terwyl die skipper en die bemanning aan boord sal bly totdat goedkeuring gegee is dat hulle aan wal mag gaan.
Personeellede wat bote uit risikogebiede ontvang, is met mediese maskers en handskoene toegerus.




