Ma Evelyn Matthys (32) sê sy is steeds in skok nadat sy haar ongebore baba verloor het – vermoedelik as gevolg van haar gestremdheid.
Matthys, wat van haar middellyf en bene verlam is, het Vrydag 14 Februarie nog die Somerset-hospitaal besoek en gevind haar baba is nog fris en gesond.
“Ek het die hele week met hoofpyne gelê en Saterdag 22 Februarie my kêrel gevra om my te was. Groot was die skok toe hy my doek wat ek moet dra afhaal en die baba daarin sien lê. Ek het geen gevoel in my liggaam nie en het niks gevoel nie,” vertel sy.
Volgens Matthys het haar kêrel uit die huis gehardloop om hulp te soek en mediese personeel was gou op die toneel. Die ongebore baba se kop was steeds in haar liggaam en mediese personeel het die baba verwyder en dood verklaar.
Sy vertel hartseer dié baba sou haar derde kind wees. Die plan was om in April vir ’n keisersnee te gaan. Matthys sê haar twee ander kinders, onderskeidelik 8 en 12 jaar oud, is ook hartseer oor die verlies van hul nuwe sib.
Volgens kapt. Cyril Dicks, plaaslike polisiewoordvoerder, word geen strafregtelike klag ondersoek nie omdat die baba aan natuurlike oorsake oorlede is.



