D’ton Jhonson, Chelsea November, Raul van Graan, Zanden Evertson, Tyrone Dempers, Cole Serie en Emelio Saligee van Atlantis sou Ikapa by die Dr Pepper Dallas-sokkertoernooi verteenwoordig.Foto: Clement Trussell


Dit sou dalk net die stap in die regte rigting vir dié agt plaaslike sokkerspelers gewees het wat hierdie week na die VSA sou vertrek om aan die Dr Pepper Dallas-sokkertoernooi deel te neem.

Die koronavirus het egter ’n stokkie voor dié talentvolle sokkerspelers se planne gesteek en die toernooi is gekanselleer. Die sewe seuns en een meisie is deur Ikapa gekies om in ver­skil­lende ouderdomsgroepe mee te ding.

Volgens die bestuur van Ikapa sal die situasie met alle belanghebbendes bespreek word. Richard Poole van Ikapa sê dit is noodsaaklik dat die reëls van ons land en die Wêreldgesondheidsorganisasie nagekom moet word.

Hy sê voorts die virus kom wêreldwyd voor en dit is ongelukkig buite almal se beheer.

“Die Dallas-beker het Ikapa se insluiting outomaties vir volgende jaar se toernooi aanvaar,” sê Poole.

Die groep is egter teleurgestel omdat hulle nie meer kan gaan nie, maar is opgewonde omdat hulle talent raakgesien is.

Poole verseker ook ouers dat die gelde wat betaal is vir volgende jaar se toer aange­wend sal word.

Die koronavirus het wêreldwyd sport op sy knieë gedwing.

Groot sportgebeurtenisse soos die Olimpiese Spele wat van 24 Julie in Tokio sou begin, is ook tot 2021 uitgestel. Boland-rugbyunie se Grootuitdaagreeks, wat reeds moes begin het, is tot verdere kennisgewing uitgestel.

Volgens Ivan Pekeur, president van Boland-rugbyunie, sal die situasie ná die 21 dae hersien word, maar hy het bevestig dat die kompetisie nog nie afgestel is nie. Pekeur het ook klubs gemaan om by die reëls te hou dat geen kluboefeninge gedurende dié tydperk mag plaasvind nie. Spelers kan wel in afsondering op hul eie oefen.

Westelike Provinsie-rugbyliga sou aanvanklik eers ná Paasfees begin, wat beteken dat die unie geen wedstryde moes uitstel nie.

Alle sportbyeenkomste is vir eers gestop en sal na die 21 dae hersien word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article