Die seuns wys die kneusplekke aan hul liggame soos hulle vermoedelik deur metropolisielede aangerand is. Hulle was ook na bewering gedwing om met mekaar se privaat dele te speel. Foto: Murphy Roberts


Ses jongmans van Dura-woonstelle het nie net goed pak slae by lede van die metropolisie gekry nie, maar dié groep moes ook blykbaar met mekaar se privaat dele voor die beamptes speel.

Dié jongspan vertel hulle het Sondag 5 April gelê toe die wetstoe­passers oor die mure spring en die lang steel ingelê het. “Hulle het enig­iets gevat om ons te slaan,” vertel die jongspan.

“Ons het die inperkingsreëls ge­hoor­saam. Die beamptes het vier van ons tot in die stort geslaan en gesê ons moet strip. Omdat ons nie verder geslaan wou word nie, het ons maar geluister en begin strip,” vertel ’n 16-jarige slagoffer.

“Julle wil mos groot wees, so ons sal julle wys,” het die beamptes glo aan die span gesê. Volgens die groep weet hulle steeds nie waarom hulle so geslaan was nie, maar sê hulle vermoed dit gaan oor ’n aanval die vorige dag op plaaslike polisielede.

Volgens lt.kol. Delven Matroos, waarnemende stasiebevelvoerder in Atlantis, is ’n vroulike polisiebeampte die vorige dag in die woonstelle aange­rand. Hy vertel die mense het oproerig geraak toe die polisie die verdagte in hegtenis wou neem en rubberkoeëls moes gebruik word. Hy sê egter hy kan nie kommentaar lewer op die beweerde aanrandings nie omdat die metropolisie en die polisie se teenbende-eenheid daardie Sondag huise besoek het.

Volgens Nora Grose, voorsitter van subraad 1, kan sulke gedrag van die metropolisielede nie aanvaar word nie en volgens haar het sy aangevra dat ’n deeglike ondersoek na al die bewerings gedoen moet word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article