Terwyl die wêreld die gevreesde Covid-19-pandemie beveg, kan nie eers die staat van inperking Atlantis-bendes keer om mekaar uit te moor nie.
’n Gesin in King Fisherpark by Dura-woonstelle het volgens die inperkingsreëls in hul huis gebly, maar terwyl hulle Paasoggend nog aan die eerste koppie boeretroos gedrink het, het ’n skieter baie kalm en rustig die trappe geklim, aan die deur geklop en begin skiet.
’n 28-jarige man, wat die deur oopgemaak het, en ’n 10-jarige meisie, wat in die voorhuis was, is getref.
Die 10-jarige slagoffer is in die been en arm getref terwyl die man, net bekend as Slow, verskeie kere getref is. Die twee slagoffers is na die Wesfleur-hospitaal geneem. Die meisie is reeds ontslaan en die man is steeds in ’n kritieke toestand.
Omstanders op die toneel het behoorlik gal gebraak dat die “gemors nie eens omgee wie hulle skiet nie”.
“Die kinders was veilig in hul huis, soos dit moet wees, maar hulle is nie eens daar veilig nie,” het een inwoner geskree.
Volgens kapt. FC Van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, word twee klagtes van poging tot moord ondersoek en is ’n 19-jarige verdagte reeds in hegtenis geneem.


