Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het Dinsdag 19 Mei gesê die plan om skole op 1 Junie oop te maak, sal voortgaan.
Volgens Motshekga het haar departement toestemming van die National Command Centre (NCC) gekry om met die infasering van leerders te begin. Planne om leerders in gr.12 en gr.7 eerste terug in skole te faseer, gaan voort, het sy gesê.
Volgens Evan Martinus, voorsitter van die Atlantis-skoolhoofdevereniging, gaan dit beslis moeilik wees omdat leerders eers die basiese goed van die virus geleer moet word. “Skole sal by die reëls van veilige afstand moet hou, maar dit gaan moeiliker raak namate die getalle gaan groei,” sê Martinus.
“Baie van ons skole wag nog op veiligheidstoerusting, maar die departement van onderwys het verseker die skole sal voor 1 Junie hul voorraad kry,” sê hy.
“Die moontlikheid dat skole sou oopmaak was altyd daar, maar die veiligheid van leerders en onderwysers moes in ag geneem word,” het Motshekga gesê. Volgens die minister was dit belangrik om eerstens skole Covid-19-gereed te kry, asook om eers vas te stel of daar enige ander siektes onder onderwysers en leerders is.
“Dit is waarom dit baie belangrik is dat ouers skole moet inlig as hulle kinders enige onderliggende mediese probleme het,” het sy verduidelik.
Volgens Motshekga is die onderwysers vanaf Maandag 25 Mei terug by skole – ’n week later as wat aanvanklik beplan is. Volgens haar word daar tans ook met die departement van vervoer beraadslaag oor hoe die veiligheid van leerders verseker sal word as hulle van vervoerdienste gebruik maak.
Sy voeg by dat personeel wat by die skoolvoedingskemas betrokke is, opgelei sal moet word om op ’n nuwe manier kos vir leerders te berei. Sy het beloof dat die departement van water en sanitasie sal verseker dat daar water by alle skole sal wees.
Volgens dr. Zahid Badroodien, Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapdienste en gesondheid, is kinders jonger as 10 jaar se kanse om die virus op te doen baie skraal.
Ouers het ook hul misnoeë uitgespreek. Hulle voel dat terwyl die parlement, restaurante en kerke gesluit hou en mense nie mag reis en rook nie, is dit nie veilig vir hul kinders om na die skool terug te keer nie.



