Beskerm ons vra verpleërs van Wesfleur-hospitaal nadat vyf personeellede positief getoets is.Foto: Murphy Roberts


Verpleërs by Wesfleur-hospitaal in Atlantis het Maandagoggend (8 Junie) geweier om die hospitaal te betree alvorens die perseel nie ontsmet word nadat verskeie lede positief vir Covid-19 getoets is nie.

Met honderde pasiënte wat buite gestaan het en verskeie bejaardes wat dringende mediese sorg moes kry, het die verpleërs besluit dat hulle veiligheid ook aandag moet kry.

Volgens ’n personeellid is twee verpleegsters en drie ander werkers positief vir die virus getoets en die bestuur doen niks om die personeel en pasiënte se veiligheid te verseker nie.

Sy beweer ook die personeel word voorgesê om nie hul status bekend te maak nie en volgens haar moet hulle ook sê hulle het die virus buite die hospitaal opgedoen.

“Ons is keelvol vir die bestuur wat nie vir ons omgee nie en net na die pasiënte omsien,” het die vrou aan Weskus Nuus gesê. “Ons moet eers na ons eie veiligheid omsien voordat ons ander kan help.”

Pasiënte wat buite gewag het op antwoorde van die bestuur vertel hulle het reeds douvoordag daar gestaan. Volgens die pasiënte het niemand aan hulle kom verduidelik wat aan die gang is nie.

Een vrou, wat gevra het om anoniem te bly, vertel sy het haar sieklike ma, wat dringend suurstof benodig, reeds vroegoggend gebring, maar sit steeds in die duister.

Nóg ’n vrou vertel sy het haar skoonma vir X-strale gebring nadat sy vermoedelik van haar ribbes gebreek het. “My skoonma sukkel om asem te haal met al die pyn,” vertel sy. “Hulle kan mos net kom sê wat aangaan,” het die bejaardes gal gebraak.

Volgens Denver Roman, provinsiale sekretaris van die verpleegvakbond Denosa, is dit onaanvaarbaar dat bestuur eers lang vergaderings wil hou oor die situasie by die hospitaal.

Roman sê hy is bewus van die situasie by die hospitaal en meen die departement moet ophou om die frontlinie-werkers “emosioneel af te pers en te misbruik”.

Hy sê voorts hy is bewus van verskeie werkers wat positief by die hospitaal getoets is en kan nie verstaan hoekom die bestuur nie onmiddellik die plek ontsmet het nie. “Bestuur het reeds verskeie kere aan die unie ontken dat lede nie aangesê word om stil te bly oor hul status nie, maar tog het ons lede by verskillende hospitale met dieselfde storie,” sê Roman.

Roman het later aan Weskus Nuus bevestig dat die personeel wat positief getoets is in selfafsondering geplaas is en dat die hospitaal ontsmet is.

Natalie Watlington, ’n woordvoerder van die departement van gesondheid, het die staking bevestig en gesê die verpleërs se bekommernisse is opgelos. Watlington het bevestig dat die hospitaal ontsmet is waarna pasiënte mediese sorg ontvang het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article