Bekommerde ouers sê skole moet gesluit bly vir ander grade tot ná die winter. Ouers het by Atlantis Sekondêr betoog teen die terugkeer van gr. 11-leerders. Foto: Murphy Roberts


Ouers in Atlantis is dit eens dat ’n dooie kind nie kan leer nie en sê skole moet gesluit bly totdat die Covid-19-pandemie onder beheer is.

Ouers het sedert verlede week by verskillende skole betoog teen die terugkeer van leerders in graad 11, 6 en R. Volgens Fredna Moses, voorsitter van die Atlantis Concern-ouers, is verskeie skole onlangs gesluit nadat onderwysers positief vir die virus getoets is.

Ouers het 6 Julie die hekke van Hermeslaan Primêr gesluit en onderwysers moes buite staan.

“Ons kan nie ons kinders se lewe in gevaar stel nie,” vertel nog ’n ouer wat deel van die vreedsame betoging was en sê baie ouers het nie hul kinders skool toe gestuur nie.

Volgens Melanie Adonis, waarnemende hoof by Atlantis Sekondêr, is twee onderwysers verlede week positief vir Covid-19 getoets en sal die skool se deure Dinsdag weer oopmaak. Volgens Adonis kan die skool nie leerders wegwys wat skool toe wil kom nie. Volgens Adonis is hul ergste vrese besig om waar te word en vra hulle dat skole tot ná die winter vir ander grade gesluit moet bly. “Ons besef dat matrikulante vir die eindeksamen moet voorberei en ondersteun hulle, maar met die terugkeer van ander grade kan skole die broeines van die virus word,” sê sy.

Robinvale Sekondêr se bywoning van graad 11-leerders was besonder hoog ten spyte dat ’n matrikulant verlede week positief getoets is. Saxonsea Sekondêr het ook baie leerders ontvang en by Proteus het slegs een graad 11-leerder opgedaag.

Matrikulante van Atlantis Sekondêr het verlede week gesê hulle ondersteun ouers se vrese met die terugkeer van graad 11-leerders, maar sê ook dat hulle gelukkig is met die huidige situasie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article