Die kanse dat ondersteuners vanjaar hul gunstelingklubrugbyspanne dié seisoen in aksie gaan sien, is baie skraal.
Behalwe vir ’n reeks kwalifiserende ronde wedstryde vir ’n plek in SA rugby se nasionale Gold Cup-reeks, kon geen ligakompetisies weens die Covid-19-pandemie vanjaar in die Boland afskop nie.
Ivan Pekeur, president van die Boland-rugbyunie, sê sou die regering SA rugby toelaat om klubrugby te hervat, daar beoog word om spesiale kompetisies aan te bied.
Pekeur maan egter teen oorhaastigheid omdat die Covid-19-pandemie steeds in die Boland-streek toeneem. Die planne met betrekking tot die voorgestelde kompetisies sal by die eerste geleentheid om ’n vergadering met die klubs te belê, vir bespreking voorgelê word.
Volgens die Boland-president sal daar by so ’n vergadering ook ’n besluit geneem moet word oor die 2020-seisoen. Volgens Pekeur stel die “nuwe werklikheid” baie hoë eise aan die Boland-rugbyunie sowel as die rugbygemeenskap van die streek.
Pekeur sê: “Ons glo ’n volwaardige kompetisie kan slegs oor twee rondes gespeel word. Met min tyd tot ons beskikking, glo ons ’n spesiale kompetisie kan wel beslis word. Mense moet ook verstaan enige rugby sal onder baie streng voorwaardes plaasvind en die werklikheid is die meeste klubs sal nie daaraan kan voldoen nie.”
Hy meen dis vir dié rede dat hulle die Boland-stadion in Wellington wil gebruik om alle klubs te wys hoe om die Covid-19-reëls toe te pas.
“Dié stadion is die geskikte venue in die klimaat van die pandemie om wedstryde te kan aanbied. Hier kan ons voldoen en verseker alle voorskrifte en reëls word nagekom.”
Pekeur sê hy wil weer eens ’n dringende beroep op die klubs doen om asseblief by die Covid-19-reëls te hou. “Bly veilig deur hande gereeld te was, maskers te dra en so ver as moontlik tuis te bly. Bid vir mekaar, bid vir goeie gesondheid en nie net om weer rugby te kan speel nie.”
Hy voeg by die pandemie het reeds sy kloue in die rugbyfamilie ingeslaan en verskeie sterftes is aangeteken.
“Kom ons ondersteun mekaar totdat ons die pandemie oorwin het,” het Pekeur afgesluit.
WP-rugby sal ook binnekort planne aankondig oor die klubs in sy stal. Volgens Calvin Warnick, voorsitter van die Atlantis-rugbyklub, sal dié unie in die volgende twee weke besluit oor die toekoms van klub se rugbyseisoen.


