Ashley “Brood” Noorman, veelsydige vastevyfvoorspeler van Young Hearts-rugbyklub, se kis het finaal gesak.Foto: Verskaf


Die grafkelder in Pella sal nooit weer dieselfde wees nie.

Só meen Reuben Abels, afrigter van die Young Hearts-rugbyklub, nadat een van hul veelsydige vastevyfvoorspelers, Ashley Noorman (39), se stewels verewig opgehang is.

Noorman is Sondag 5 Julie in die vroeë oggendure op slag dood nadat hy op die N7 in ’n trompop-botsing betrokke was. Abels vertel Noorman, oftewel “Brood” soos hy onder spanmaats bekend was, het meer as 100 keer vir Young Hearts se eerste span uitgedraf en was die span se geliefste speler onder toeskouers omdat hy nooit teruggedeins het vir sy teenstaanders nie.

“Die grappige vastevyfvoorspeler se kragspel het respek by sy teenstaanders afgedwing en hy was die enigste speler wat in hul opponente se kleedkamer ná die tyd ’n bier saam met hulle sou drink,” vertel Abels. “Ons bus sal nooit weer dieselfde wees nie, want wen of verloor het Brood altyd sy spanmaats aanmoedig of geterg.”

Noorman, wat in Atlantis gewoon het, het nege jaar vir Young Hearts gespeel en was met sy dood by TB/HIV Care werksaam. Deur sy werk het hy gereeld HIV-bewusmakingsprojekte in Pella van stapel gestuur en het ook toetse vir die gemeenskap gedoen. Noorman is Saterdag uit die AME-kerk in Atlantis begrawe.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article