Atlantis het Saterdag 4 Julie een van die dorp se bekendste polisiemanne gegroet.
Kapt. Kenneth Lombard (52) het Vrydagoggend (26 Julie) die stryd teen die koronavirus in Mediclinic Milnerton verloor nadat hy byna vir drie weke in die hospitaal was.
Lombard, ook ’n bekende in plaaslike sportkringe, was verbonde aan die Table View-polisiekantoor se speurtak en was voorheen bevelvoerder van die speurtak in Philadelphia.
Lombard se oorskot is deur die Destiny Riders-motorfietsklub deur die strate waar hy grootgeword het begelei en daarna na die Atlantis United-kerk in Avondale geneem, waar familie en vriende in hul hordes ’n laaste keer wou groet.
’n Atlantis-kampvegter, Covid-19-oowinnaar en ’n mediese suster, Olivia Pharo, het seker gemaak dat daar by die regulasies gehou word en slegs 50 naastes kon die diens bywoon terwyl baie mense buite na die diens oor luidsprekers geluister het.
Die emosionele diens is met ’n erewag deur die motorfietsryers afgesluit terwyl sy oorskot deur familie na die lykswa gedra is. Lombard is wyd en syd deur plaaslike sokkerklubs vir sy bydrae tot die sport vereer.


