Gholfspelers van Mamre het 9 Augustus vroue vereer met ’n kompetisie tussen Mamre en Darling by die Darling-gholfbaan.
Volgens Pieter February, kaptein van die Mamre-span, het die twee spanne op die kompetisie besluit nadat gholfbane met die intree van vlak 3 van die Covid-19-beperkings weer kon oopmaak.
Die kompetisie, wat jaarliks gespeel gaan word, is die president-skild gedoop en Mamre het die tuisspan met 10-8 geklop nadat die besoekers ná die eerste been agter was. Met 12 spelers in elke span en 36 putjies het die spanne in ’n Match play-formaat gespeel. Die eerste ronde was in pare beslis en die tuisspan het gewys dat hulle beslis ’n harde neut gaan wees om te kraak en het hul neus ná die been met 3.5 (drie oorwinnings en een gelykopuitslag) teenoor die besoekers se 2.5 (twee oorwinnings en een gelykopuitslag) voor gekry.
Die tuisspan, onder leiding van Jovan Links, het egter nie rekening gehou met die besoekers, wat deur February aangevoer word, se karakter en veggees nie. Die besoekers het daarna in die enkelwedstryde hul gholfstokke die praatwerk laat doen en danksy goeie vertonings deur Pine Pienaar, Pieter February en Desmond November die oorwinning verseker. Die opwindende enkelspel het die besoekers 7.5 punte in die sak gebring en sodoende die oorwinning verseker.
Kurt Petersen en Elrico Bruintjies het skitterende gholf opgelewer. Volgens February het twee ontwikkelende spelers ook die stokke behoorlik geswaai; Liam Adonis (Mamre) en Nicquin Arendse (Darling) het hul teenstaanders behoorlik laat sweet. Mamre verdedig sy Rival-bekertitel vanaf 24 September tot 27 September.
Dié kompetisie word die afgelope sewe jaar tussen Darling, Mamre, Atlantis en Morning Star beslis.





