Gemoedere tussen die polisie en die familie van ’n plaaslike sakeman het na bewering in die vroeë oggendure van Maandag 24 Augustus kookpunt bereik.
Weskus Nuus het voorheen berig die sakeman is tans in ’n stryd met die polisie gewikkel en het regshulp van ’n top-Kaapse advokaat, William Booth, ingewin ná die sakeman na bewering deur ’n polisiebeampte aangerand is.
Tydens die voorval Maandag omstreeks 04:00 is ’n polisievangwa totaal uitgebrand. Volgens omstanders op die toneel het ’n polisiebeampte, teen wie die sakeman ’n saak aanhangig gemaak het, vroeër by die man se huis opgedaag en hom gesoek.
Omstanders vertel hulle het die polisie verjaag omdat hulle glo die polisie intimideer die sakeman oor die saak. Bure vertel die polisieman is daar weg en het glo later weer met versterkings opgedaag. Dit is toe dat dinge glo handuit geruk het.
Na bewering het die polisie met rubberkoeëls op mense begin skiet waarna die “vuurbak” na die vangwa geslinger is wat die vangwa in ligte laaie gelaat het.
Die sakeman se pa is tydens die voorval in die oog getref en moes na die hospitaal geneem word.
Diegene na aan die sakeman glo dat hy deur die polisie geteiken word omdat hulle glo hy is ’n dwelm-handelaar, maar hulle kon tot hede nog geen bewyse van ongerymdhede kry nie.
Motors se vensters is in die proses uitgeskiet en bewerings dat mense vanuit die huis op die polisie geskiet het kon nie bevestig word.
Volgens nog inligting is die polisie uitgeroep na ’n klag van rusverstoring omdat mense gekla het oor harde musiek.
Booth het Maandagoggend bevestig sy kliënt is in hegtenis geneem en sê hy weet nog nie wat die klagte is nie. Weskus Nuus het Maandagoggend inligting ontvang dat sewe mense in verband met dié voorval in hegtenis geneem is.
Die inligting kon egter nie teen druktyd deur die polisie – plaaslik of provinsiaal – bevestig word nie.


