Kontakmisdaad het met ’n stewige 40% volgens die jongste misdaadstatistieke, wat onlangs bekendgestel is, gedaal.

Dié misdrywe is onder meer, moord, seksuele misdrywe, poging tot moord, ernstige aanranding, aanranding gewoon, roof met verswarende omstandighede en gewone roof.

Dié statistieke is vir die periode April 2018 tot Maart 2019.

Die misdaadstatistieke toon egter dat die getal moorde, vergelyke met verlede jaar, onveranderd is terwyl poging tot moord met meer as 70% gestyg het – vanaf 11 verlede jaar tot 19 hierdie jaar. Roof met verswarende omstandighede het met ’n massiewe 63% gedaal – vanaf 46 verlede jaar tot 17 hierdie jaar.

Meer as die helfte minder mense is ook hierdie jaar geroof aangesien slegs 17 gevalle aangemeld is vergelyke met die 35 verlede jaar.

Ernstige aanrandings het ook met die helfte, 64 teenoor 32, gedaal wat kontakmisdaad met 40,5% laat daal het van 326 tot 194.

Seksuele misdrywe het ook ’n effense afwaartse wending geneem met twee minder voorvalle hierdie jaar terwyl opsetlike saak beskadiging met 44,8% afgeneem het.

Huisbraak en diefstal (by ondernemings en vanuit motors) het ook met 38,1% gedaal terwyl winkeldiefstal en ander kommersiële misdrywe ook met 44,3% verminder het.

Dwelmverwante misdaad, dronkbestuur en besit van onwettige vuurwapens het met ’n stewige 65% gedaal wat Atlantis se misdaad algeheel met 40,7% laat daal het.

Volgens kapt. Lisa Munro, Atlantis-polisiewoordvoerder, het die verbod op alkohol en die inperking beslis ’n groot rol in die skerp daling van misdaad gespeel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article