Ivanhoe Allies, voorsitter van Emmaneul, bedank Marie Petersen (agter) terwyl Joyce Anderson toekyk. Foto: David Rossouw


Marie Petersen, ’n voormalige verpleeg­ster en gemeenskapswerker van Atlantis, het 20 jaar gelede ’n visie gehad om kinders met gestremdhede te help.

Petersen se droom is bewaarheid toe die Emmauel-dagsorgsentrum (EDS) in November 2000 sy deure vir 10 kinders met serebrale gestremdhede geopen het en sodoende werk vir ses inwoners geskep het.

Danksy Peninsula Beverages is ’n ou kompleks in Sherwood Park, wat voorheen ’n weeshuis was, gekoop en opgeknap en toe aan EDS geskenk.

“Aan die begin was dit moeilik, maar met die ondersteuning van maatskappye en die gemeenskap het ons sukses in ons doelwit bereik,” het Petersen gesê.

Ná 17 jaar van dienslewering aan EDS het sy egter in 2017 besluit om die tuig as sentrumbestuurder neer te lê. Petersen sê sy kon nie vir beter opvolgers as haar dogter, Joyce Anderson en geestelike leier Ivanhoe Allies, gevra het nie.

Anderson, ’n gekwalifiseerde maatskaplike werker, dien as die nuwe sentrumbestuurder terwyl Allies as voorsitter oorgeneem het.

Die doel van EDS is om geleenthede vir kinders met intellektuele en fisieke gestremdhede in Atlantis en omliggende gebiede te skep. Die organisasie sê met behulp van maatskappy soos Peninsula Beverages, Rotaratiërs-Nuweland en -Melkbosstrand word daar meer as 80 kinders en volwassenes by EDS gehuisves.

Josie Norfolk, voormalige voorsitter van Rotariërs-Melkbosstrand, het saam met Rotariërs-Nuweland ’n groot bydrae in die daaglikse bestaan van EDS gemaak.

Norfolk en Petersen het ’n baie goeie verhouding en is soos susters vir mekaar.

“Vandag sit ek dit verder voort wat Petersen met Norfolk opgebou het. Norfolk is steeds by EDS betrokke en ons is baie dankbaar daarvoor. Sy het ’n hart van goud en haar leuse: ‘Ons sal ’n plan maak in tye van nood’ is ook die leuse van EDS wanneer dinge moeilik gaan,” het Anderson gesê.

Met bydraes deur die provinsiale regeringsdepartemente, privaat sektore en gemeenskapsorganisasies kon EDS-projekte van stapel gestuur word om die sentrum volhoubaar te maak van afvalmateriaal wat geskenk is deur organisasies. Verskillende produkte word deur die personeel en kinders vervaardig en dan verkoop om sodoende te help met die instandhouding.

“Ons nuutste naaldwerkprojek is die inkopiesakke wat vervaardig en aan die publiek en maatskappye teen R50 verkoop word. Hiermee hoop ons om geld in te samel om diefwering by ons vensters aan te bring. Ons vensters word tans deur vandale beskadig omdat daar nie genoegsame beskerming is nie. Ons plig is om te verseker dat ons leerders en personeel daagliks veilig in ons sorg is,” het Anderson gesê.

. Vir nog inligting oor EDS, skakel 021 572 0976 of 072 632 4737 of stuur ’n e-pos aan emmdaycare@telkomsa.net.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article