Die 75-jarige Nicodemus (Nicky) Arends is ’n voormalige Boland- en Protea-rugbyspeler wat steeds ’n passie vir dié sport koester.


Die voormalige Protea-rugbyspeler, oom Nicodemus (Nicky) Arends, van Mamre mis steeds nie een wedstryd van sy geliefde Hamlets nie.

Arends het op ’n jong ouderdom van 19 jaar in Hamlets se tweede span reeds sy merk gemaak en is ná ’n paar goeie vertonings tot die hakerposisie in die A-span bevorder.

Die buksie van ’n haker wat die skaal net so oor die 70 kg getrek het, was ’n doring in die vlees van menige teenstander wat bont moes staan as hy op die aanval was. Arends se goeie spel vir Hamlets het hom ’n plek in die destydse Malmesbury-uniespan en Boland se tweede spanne besorg waarna hy vir hom ’n plek in die Boland-A-span losgespeel het.

Arends, wat ook soms as flank en agsteman in Hamlets se span waarge­neem het, sê dat fiksheid een van sy grootste pluspunte was toe hy rugby gespeel het. Hy is in 1971 na die Protea-proewe genooi waar hy teen van die beste spelers in sy posisie en strawwe teenstand in aanraking gekom het, maar het deurgedruk en in 1971 saam met die Protea-span na Engeland getoer.

“Ons het 13 Desember in Engeland geland en ons eerste wedstryd was op 16 Desember en ons het met 3-14 teen Hertfordshire verloor,” sê die rugby­held wat op 13 November sy 76ste verjaar­dag vier.

Volgens Arends het hulle goed teen die Engelse-spanne gevaar met twee oorwinnings teen Oxfordshire (33-55) en ’n Londense span (19-12) asook twee gelykopuitslae en drie verlore.

“Alhoewel ons gesukkel het om aan die swaar moddervelde gewoond te raak, het ons later op die toer verbe­ter. Die wedstryd wat vir my op die toer uitgestaan het, was beslis die een teen Oxfordshire, toe ons met 33-5 gewen het.”

’n Nekbesering teen Hopefield in 1972 het hom vir ’n paar maande buite aksie gehou totdat hy weer laat in die seisoen in ’n derby-wedstryd tussen Hamlets en Oaks betrokke was.

“Dit het altyd die beste rugby uit die twee spanne gebring omdat albei span­ne opwindende hardlooprugby gespeel het. My unie-spanmaat, Lodewyk Passens van Oaks, het my altyd opdraande gegee omdat hy my spel geken het, maar ons was steeds groot vriende ná harde wedstryde.”

Arends het nie baie beserings opge­doen nie, maar ’n tweede nekbesering in 1973, waar sy nekwerwels geskuif het, het hom laat besluit om sy rugby­stewels op te hang.

Hy het toe op rugby-afrigting gekon­sentreer en vandag praat baie spelers van hom as “hulle afrigter”. Spelers herstel deesdae baie vinniger van beserings omdat daar beter rehabilita­sie­programme as destyds is, meen Arends.

Arends, ’n bouer van beroep, sê Covid-19 se tydelik ontwrigting in rugby benadeel die spel en sit ontwik­keling verder terug. Hamlets sal nou nog ses maande langer moet wag voor die span teen die beste klubspanne van die Westelike Provinsie-rugbyunie in die Superliga A te staan gaan kom.

Sy sukses is te dankie aan sy ma, Charlotte, sy vrou, Myrtle, asook sy familie en vriende wat hom altyd in sy rugbyloopbaan ondersteun het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article