Rondloperdiere op die Silwerstroom-pad het weer ’n ernstige motorbotsing veroorsaak en een persoon is tans in ’n ernstige toestand in die hospitaal.
Die groep van sewe mense was op ’n daguitstappie na Grotto Bay toe hul motor met die terugkoms ’n rondloperperd getref het.
Die motor, wat etlike meters gerol het en weer op sy wiele beland het, is ’n totale wrak. Mediese personeel het op die toneel gesê dit is ’n wonderwerk dat daar nie noodlottige gevalle was of meer ernstige beserings nie.
Die perd is tydens die slag onthoof terwyl passasiers ná mediese behandeling ontslaan is.
Volgens een van die insittendes, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het die perd net skielik in die pad verskyn en was die botsing onvermydelik.
“Die bestuurder het alles probeer en ek dink dit het ons lewe gered,” het die passasier gesê. Volgens die passasier het die motor die perd teen die kop getref anders kon die perd bo op die motor beland het wat veel erger kon wees.
Volgens kapt. Liza Munro ondersoek die polisie ’n klag van roekelose en nalatige bestuur.


