Die Mamre-fietsryklub het Woensdag 9 September amptelik sy deure geopen.

Volgens die voorsitter, Davon January, is hy vol vertroue dat die sportsoort gewild onder mans, vroue en kinders gaan word en later ook soos rugby, krieket en sokker suksesvol in die dorp sal wees.

Covid-19-regulasie is steeds van krag en dit is baie moeilik vir fietsryers om aan kompetisies deel te neem omdat daar steeds inperkings van toepassing is.

Die klub se mikpunt is om fietsryers en die gemeenskap gereeld op fietstoere te neem.

Volgens January het ’n paar lede van die klub aan die gewilde Wild Boar MTB-roete in Wellington saam met Pieter van Wyk, MTB-roetebeplanner, deelgeneem en hulle baie goed van hul taak gekwyt.

Die Wild Boar MTB-roete is deel van die jaarlikse Absa Cape Epic-fietsroete waar baie jeugdiges en professionele bergfietsryers ontwikkel word.

Die klub beoog om in samewerking met Van Wyk, ’n soortgelyke MTB-roete in Mamre te bou.

“Die idee is om fietsryers blootstelling te gee aan die verskillende omstandig­hede en oppervlakte wat hulle later sal trotseer in kompetisies,” verduidelik January en voeg by, “alhoewel dit vir sekere fietsryers ’n eerste keer was, is dit ook goeie ervaring vir hulle.

Die fietsryers het beslis die strawwe uitdagings geslaag en ons hoop om aan meer sulke kompetisies deel te neem.”

Derhalwe fietsry, is die klub ook betrokke by gemeenskapsprojekte soos die onlangse verf van een van die ingangsmure van Mamre.

Die verfprojek maak deel uit van toekomstige bewusmaking van die omgewing.

Die verf is deur Balistic Roots-bestuursskool geskenk, waarvan January die eienaar is.

Mamre-fietsryklub oorweeg om by die Cycle SA of Pedal Power Association aan te sluit.

Affiliasie aan Boland- of WP-fietsryverenigings sal later oorweeg word met die oog om jeug te ontwikkel in baanresies.

“Ons doelwit is om die gemeenskap die geleenthede te bied om fiets in ons omgewing te ry sowel as ander plekke ook,” het January gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article