Inwoners en skoolmaats van Jordan Moore het Dinsdagoggend buite die hof betoog.

David Rossouw

Twee mans is amptelik aangekla vir die moord op die 16-jarige Jordan Moore.

Die mans is aanvanklik aangekla vir die besit van gesteelde goedere, maar volgens ‘n bron is daar ook bebloede klere by die een se huis gekry.

Kapt. Liza Munro, Atlantis-polisiewoordvoerder, het bevestig dat die mans positief met die moord verbind kon word, maar wou nie veel verder uitlaat nie. 

Die  nuus van Jordan, ‘n gr. 10-leerder by Hoërskool Robinvale, se moord het Saterdagoggend soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei. 

Volgens Munro, het Jordan en twee vriende vermoedelik in die buurt geloop toe hulle deur mans met honde gekonfronteer is. Volgens Munro word daar vermoed dat die mans die honde op die jongspan gesit het en die maats het in verskillende rigtings laat spaander.

Die ander twee seuns het weggekom en hulp gaan soek. Met hulle terugkeer na die toneel was Jordan reeds dood. Sy lyk is op ’n oop veld in Rietsangerlaan ontdek.

Moore het verskeie wonde aan sy gesig, nek en bors gehad en die vermoede is dat hy gesteek en ook deur die honde gebyt is.

Sowat 500 inwoners en skoolmaats van Jordan het Dinsdagoggend buite die hof betoog. Een van sy skoolmaats het ’n petisie aan die hofbestuurder oorhandig terwyl die trane vrylik onder die leerders gevloei het.

Die saak is tot Vrydag 22 Januarie volgende jaar uitgestel en die mans bly in aanhouding.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article