Theophilus Phiri wat die rolle van Mataio en Diego Brady vertolk, saam met Eshberonzee Phiri wat die rol van Amy Salvatore in die tweede seisoen van The Next Unknown vertolk. Foto: Verskaf


Theophilus Phiri (29), plaaslike filmmaker van Sherwoodpark, is hard besig om aan die tweede seisoen van sy bekende reeks, The Next Unknown, te werk.

Phiri, wat die reeks se regisseur, skrywer en ook die hoofrol in die reeks vertolk, sê hy is baie dankbaar dat ten spyte van die negatiewe impak wat die Covid-19-pandemie op die land gehad het, dit hom die geleentheid gebied het om sy webreeks klaar te verfilm.

“Dié reeks handel oor die tweelingbroers, Diego en Mataio. Diego is geestelik onstabiel en het van kleins af neigings getoon om diere dood te maak terwyl Mataio die rustige voorbeeldige een is.

“Diego beland in ’n inrigting nadat hy sy ma vermoor het. Jare later maak hy weer sy verskyning in sy broer se lewe en krap Mataio se lewe deurmekaar,” verduidelik die vervaardiger.

The Next Unknown het tydens 2017, in die eerste seisoen, uit ’n toneelgeselskap van 19 bestaan en in vanjaar se seisoen is daar vyf nuwe karakters. Die verfilming het in Atlantis en Melkbosstrand plaasgevind.

Benewens die twee hoofrolle wat hy vertolk, moet Phiri ook agter die skerms werk.

Hy sê die tweede seisoen sal eers in Junie 2021 bekendgestel word weens die inperking. Hy beloof egter vele drama en spanning wat wag.

Intussen kan kykers meer oor die karakters uitvind deur die reeks se Facebookblad te besoek. Om die eerste reeks te kyk, besoek YouTube en kyk al agt episodes van The Next Unknown (Atlantis Cape Town Movie) daar.

Phiri sê kykers wat nie toegang tot internet het nie, kan die DVD koop.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article