Cynthia Edwards het vanjaar, soos baie ander, onder die Covid-19-pandemie deurgeloop. Edwards het self die korona-virus opgedoen en deel haar storie met Weskus Nuus.

Vrae het my soms oorval.

Is God kwaad vir die wêreld? Wat is besig om te gebeur?

Ek het vir genesing gebid en ook vir dié wat familie in die stryd teen die virus verloor het. Min het ek geweet dat ek een van die statistieke sou word.

Eers het ek ’n ongewone moegheid ervaar. Daarna was dit die seerkeel, hoofpyn en soms kort asem. Toe my reuk en smaak heeltemal verdwyn het, het ek besef ek is in die moeilikheid.

Nadat ek my uitslae gekry het, moes ek dit ’n paar keer lees – ek is positief vir Covid-19 getoets.

My familie, wat met my in kontak was, moes hulle laat toets. Dit was ’n groot verligting om te hoor nie een van hulle het die virus opgedoen nie. Ek kon vir God daarvoor bedank – Hy het my familie bewaar. Ná my uitslae moes my kleinkinders vir my by die kamervenster kom kuier en dis moeilik, want ek wil hulle drukkies gee, maar vir nou is dit net genoeg om te sien hulle is gesond.

Dis miskien wensdenkery om te hoop die lewe gaan so gou as moontlik na normaal terugkeer. Die hoop sal altyd in my hart wees vir die toekoms, of dit nou normaal sal wees of later in 2021? Normaal vir my, is dat ons sonder ’n masker hoef te wees. Ek kan nog saamleef met die handewas en om gesond te eet en vitamiene te drink.

Kom ons staan saam en werk saam om die Wes-Kaap Covid-vry te kry. Elke bietjie help, het ons voorouers altyd gesê.

Kom ons los die ongehoorsaamheid en astrantheid wat so maklik wil oorneem en ons begin soos verantwoordelike burgers die stap van gehoorsaamheid te neem en doen wat reg is.

Onthou, dis nie lekker om die virus te het nie. Dis nie lekker om afgesonderd te wees nie. Niemand weet hoe ernstig of nie ernstig jy dit gaan kry nie. Die beste is om te doen wat van ons verlang word – was hande, behou ’n veilige afstand, dra masker en eet gesond.

Niemand weet hoe lank Covid by ons gaan wees nie. Een ding is seker, dat selfs in die moeilike omstandighede ons die regte ding kan doen en daaruit kan leer.

Kom ons beskerm mekaar!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article