Gekyk na die nuutste syfers, is dit regtig ’n punt van kommer vir alle sektore in Atlantis.
Almal kyk na die kerk as die “super verspreiders” (waarmee ek nie totaal saamstem nie). Die kerke is oop, en weereens gaan baie se oë op die kerke wees. Die rede vir hierdie geskrif is reeds ’n pleidooi tot versigtigheid vir alle pastore.
Soos u bewus is, vele van ons kollegas het ons reeds weens dié virus verlaat. Ons weet pastorale sorg is belangrik, maar baie lede dink dis hul reg dat die pastoor hulle moet kom besoek as hulle siek is (Covid-19 spesifiek).
Daar is ook onverantwoordelike families wat weet wat hul familielede se status is, en steeds die lid by ’n begrafnis toelaat en dan die pastoor te vra om die begrafnis te behartig.
Kom ons almal wees redelik en bewaar lewens, want pastore het ook families wat ook kwesbaar en vatbaar vir die koronavirus is. Selfs nou tydens die inperking was daar heelwat kerke in Atlantis wat steeds oop was alhoewel kerke veronderstel was om toe te wees.
Sommige kerke was in huise of in die agterplaas. Hierdie pastore was bloot onverantwoordelik. Wanneer kerkaktiwiteite nou weer in volle gang gaan wees, vra ons as die Pastorale Beweging, asseblief wees versigtig. Hou altyd mense se gesondheid in ag.
Maak seker dat u lidmate hande was, maskers dra en afstand behou. Hierdie beperkings is tydelik, maar om ’n lewe te verloor, is permanent.
Ons beoog om binne die volgende week of twee van ons pastore bymekaar te kry en die Menseregtekommisie in te kry om ons toe te spreek. Besonderhede volg binnekort.
Bly Geseënd. Bly Veilig.
Jesus Groete,




