Peter Gomez gemeenskapwerker van Avondale se inwoners is moeg van lee beloftes

Murphy Roberts

Inwoners van Avondale en Saxonsea sê hulle is moeg vir die
leë beloftes oor behuising.

Inwoners het Dinsdagaand ’n stuk grond op die hoek van
Grosvenorlaan en Reygersdal-rylaan vir huise geëien.

Volgens Peter Gomez, gemeenskapswerker in Avondale, is
agterplaasbewoners ’n groot probleem in dié gebied omdat mense reeds jare op
die regering se behuisingswaglys is. Hy vertel sommige het na die stap van
grondbesetting oorgegaan nadat inwoners van Witsand ook onlangs grond oor die
behuisingskwessie beset het.

“Ons is nie rassisties nie, maar as Witsand dit kan regkry,
kan ons mos ook,” sê Gomez.

Inwoners van Witsand het die afgelope naweek meer as 300
informele huise op privaat grond opgerig en die situasie word tans deur ’n
privaat sekerheidsmaatskappy gemonitor nadat die grondeienaar ’n
uitsettingsbevel in die Atlantis-hof verkry het. Dié bevel kan egter nie
uitgevoer word nie ingevolge die huidige Rampbestuurwet.

Volgens Gomez het Avondale- en Saxonsea-inwoners moeilik
geraak toe Kaapstadse wetstoepassers strukture wat gebou is afgebreek het en
dit in ’n plofbare situasie ontaard het.

Inwoners het strate in die buurt  met brandende
motorbande versper en wetstoepassers is met klippe bestook. Dié inwoners meen
die beamptes moet liewer “Witsand se hokkies ook afbreek”. Volgens Allister
Lightburn, proporsionele raadslid van die wyk, verstaan hy inwoners se
frustrasies, maar sê hy ook geweld is nie die oplossing vir die probleem nie.
Lightburn sê inwoners word mislei deur sogenaamde leiers met verskuilde
politieke agendas.

Volgens Fiona Abrahams, ANC-proporsionele raadslid, word
rassehaat, voor die plaaslike verkiesing later die jaar, deur sekere leiers met
verskuilde agendas aangehits.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article