Inwoners is erg onthuts omdat hulle nie gehelp kon word nie toe die plaaslike Sassa-kantoor nie sy elektrisiteitsrekening betaal het nie en die krag afgesny is.


Baie inwoners sukkel om tot verhaal te kom nadat hul maatskaplike toelae steeds nie betaal is nie en hulle sukkel om hul geld te kry.

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het in Desember skielik betaling van ongeskiktheidstoelae gestaak en sedertdien probeer inwoners om hul geld te kry. Buiten die uitdaging van die Covid-19-pandemie moes mense verlede week elke dag omdraai – die kantoor se elektrisiteitstoevoer is weens wanbetaling afgesny.

Volgens Cynthia Clayton het die Stad Kaapstad die plaaslike kantoor se kragtoevoer afgesny omdat Sassa nie betaal het. Inwoners was met Weskus Nuus se besoek Dinsdag (9 Maart) erg onthuts omdat baie van hulle nog nie ’n datum gekry het vir hul nuwe aansoeke nie. “Dit beteken ons gaan nou nog langer moet wag, omdat niemand vir ’n week gehelp is nie,” het die groep gekla.

Volgens Clayton het sy daadwerklik aan die probleem gewerk die minuut toe dit onder haar aandag gebring is en die kragtoevoer is Woensdag 10 Maart weer aangeskakel nadat Sassa die rekening betaal het. “Ons kan nie toelaat dat inwoners onder moeilike omstandighede nog langer vir hul toelae moet wag nie,” sê Clayton.

Mense kla Sassa is ongevoelig teenoor inwoners wat reeds sukkel en wou nie hul vrae beantwoord nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article