Atlantis het met die heengaan van pastoor Lenie Maya (64) nog ’n moeder verloor.
Maya is die afgelope naweek ter ruste gelê nadat sy op 25 Februarie oorlede is. Sy was bekend vir haar liefde vir die gemeenskap en die bydrae wat sy tot die plaaslike gemeenskap gelewer het.
Maya, ’n pastoor, is deur haar familie as ’n moeder, mentor en adviseur vir die jeug beskryf.
Medelye aan die familie het op sosiale media ingestroom. Baie sê sy was iemand wat nie geskroom het om haar alles vir die gemeenskap te gee nie. Haar ywerige vrywilligerswerk sal veral deur die Atlantis Integrale HIV/Vigs-netwerk onthou word. Hier was sy die uitvoerende hoof van die organisasie wat beraders wat met HIV- positiewe pasiënte gewerk het.
Maya het ook in 2017 geskiedenis gemaak tot sy een van 11 ander plaaslike vroue was wat hul eie boek vrygestel het. Vroue van Atlantis handel oor die vroue se lewenservaringe.
Sy was byna 41 jaar met pastoor Tom Maya getroud. Sy laat vier kinders agter, maar was ook “ma” vir honderde andere.





