Pieter Februarie voormalige skoolhoof van Mamre Primêr het die tuig na 39 jaar in die onderwys neergelê. Foto: Mamre Primêr


Peter Februarie (59) het die tuig ná 39 jaar diens in die onderwys neergelê toe hy sy laaste take Vrydag 26 Februarie voltooi het.

Februarie was 15 jaar die hoof by Mamre Primêr.

Hy het sy loopbaan as opvoeder by die skool in 1983 begin. Volgens Februarie se kollegas het hy as jong onderwyser sy visie en missie in die lewe uitgeleef – om leerders holisties op te voed.

Februarie het geen klip onaangeroer gelaat om altyd die beste vir sy leerders en kollegas te lewer nie. “Sy ywer en entoesiasme was aansteeklik,” onthou hulle.

Die voormalige skoolhoof word beskou as ’n doelgerigte opvoeder wat sy lewe aan die opvoedingstaak van menige gewy het, sê sy voormalige kollegas.

Februarie se leier-eienskappe is vroeg raakgesien en hy is ná slegs agt jaar in die onderwys in April 1991 as departementshoof aangestel. Hy het met die opening van Mamre se nuwe laerskool twee jaar later net van krag tot krag gegaan.

Hy is in 1998 as adjunkhoof aangestel en in 2006 as hoof.

Februarie het waarlik die skool se leuse “Kennis Oorwin” geleef deur leerders aan te moedig om geleenthede aan te gryp.

Februarie is ook ’n kranige gholfspeler en is kaptein van die Mamre-gholfspan. Die skool wens hom al die beste op sy lewenspad toe.

“Leef en beleef u reis!”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article