Terwyl inwoners in Atlantis sukkel om tydens die inperking kop bo water te hou, blyk dit ander verryk hulself ten koste van die armes.
Verskeie sakeondernemings – van klein tot groot – word tans deur die department van arbeid en die polisie se spesiale ondersoekeenheid (Valke) geoudit in verband met die nasionale Covid-19-Ters-fonds. Plaaslik word sommige sakelui van die wangebruik van dié staatshulp beskuldig.
In die jongste voorval sê die werklose Susan Meyer (20) van Saxonsea sy het vroeg verlede jaar aansoek gedoen vir die R350-werkloosheidsvoordeel, en is goedgekeur. “Ek moes eenvoudig bydra omdat slegs my broer in die huis werk en ons trek maar swaar,” vertel sy.
“Tot my verbasing het ek verlede maand ’n boodskap van die department van arbeid gekry wat sê ek kwalifiseer nie meer vir die R350 nie, omdat ek tans in diens is. Ek was stomgeslaan deur die boodskap en desperaat vir die geldjie, en het gaan hoor hoekom vat hulle my broodnodige geld weg.
“Groot was my skok toe die amptenaar by die arbeidskantoor aan my en my ma wys ek is in diens van iemand bekend aan ons. Die klerk het ook genoem dat verskeie eise reeds van die Covid-19-Ters-fonds namens my geëis is,” verduidelik Meyer.
Weskus Nuus het ondersoek ingestel oor Meyer se bewerings en bevind vier bedrae wat gesamentlik R14 498 behels, is sedert verlede jaar in Meyer se naam uitbetaal. Sy het bevestig sy het nie ’n dooie duit van die geld gesien nie.
Die onderneming wat namens Meyer geld van die Covid-19-Ters-fonds ontvang het, het ook vir vier ander werkers geëis. Die algehele uitbetaling vir die vyf “werkers” is gesamentlik sowat R72 500.
Volgens Meyer ken sy die eienaar van die onderneming. Sover as wat sy kon vasstel, is die ander vier “werkers” ook bekend aan haar.
Kol. Abdul Enus, hoof van die ondersoekeenheid by die Valke, sê die Valke het Meyer se klagte ontvang en ondersoek dit.



