Grosvenor Primêr het vir die eerste keer in die geskiedenis ’n perfekte manifes aangebied om die hoofseun, hoofmeisie en onderhoofseun en onderhoofmeisie te bepaal.
Die skool het van ’n puntestelsel deur die onderwysers gebruik gemaak om die beste kandidate vir die posisie te vind nadat elke leerder ’n toespraak moes lewer.
Dmitri Pritchard is verkies tot hoofseun, met Elridge Clerk as onderhoofseun. Keisha Farmer is as hoofmeisie aangewys en Cayleigh Willemse die onderhoofmeisie.
“Ek kan nie die dae langer maak nie, maar ek kan probeer om dit beter te maak. Wat ek wil sê, is dat ek altyd die beste dae wat ek met Grosvenor Primêr deel, wil onthou,” het Dmitri gesê.
“Leierskap gaan nie oor posisie of mag nie, maar dit gaan oor potensiaal – my potensiaal,” het Keisha gesê.
“Ek is regtig beïndruk met jul professionele toesprake en julle het bewys dat julle uitstekende leiers en gassprekers is,” het Terence Adams, die hoof, aan die prefekte gesê.
Grosvenor Primêr het die afgelope twee jaar na vore getree as een van die gewildste skole in Atlantis.
’n Slaagsyfer van 89% in 2016 en ’n allemintige 95% in 2020 het die afgelope vier jaar ’n verbetering van 7% getoon.
Toe Weskus Nuus Adams vra wat hy dink tot die verbetering gelei het, het hy gesê: “Die skool se onderwysers en assistente het ongetwyfeld ’n groot verskil by Grosvenor Primêr gemaak.”





