Links Jason Adams (werkswinkel aanbieder) saam met tuiniere van Atlantis en Mamre. Foto: David Rossouw


Sestien tuiniers van Atlantis en Mamre, wat groentetuine as ’n stokperdjie verbou, was van die eerste groep mense wat basiese opleiding by die department van landbou ontvang het.

Bearfish-strategiese dienste, ’n diensverskaffer vir die department, het die afgelope maande hard gewerk om opleiding moontlik te maak vir inwoners wat groentetuine in hul agterplase het.

Die tuiniers bedryf hul tuine as klein ondernemings en die hoop is meer tuiniers sal uiteindelik opleiding ontvang.

Weens die uitwerking van die koronavirus-pandemie kon slegs ’n handjie vol tuiniers geakkommodeer word. Die kursus vir basiese inleiding tot voedseltuine is van 22 tot 26 Februarie by Kerria Primêr aangebied en is goed deur tuiniers ondersteun.

Volgens die departement wil hy die tuiniers bemagtig sodat gemeenskappe dit in volhoubare en lewensvatbare ondernemings sal ontwikkel.

Lydia Botha, ’n gemeenskapsleier, sê die opleiding en die tegemoetkoming word waardeer asook die spesiale vergunning van die department, wat sal verseker dat die tuine gevestig sal word.

“Ons gemeenskappe ondervind steeds groot uitdagings om landbougrond te bekom sodat hulle groentegewasse kan produseer, maar met die veranderinge wat tans in die landbousektor plaasvind, hoop ek dat hierdie positiewe verbeterings ons mense in die toekoms sal bevoordeel,” het Botha gesê.

Quinton Johannes het gesê: “ ’n Goed voorbereide landery beteken goeie resultate en hoëgehalteprodukte, en ons kan met hierdie kennis ander tuiniers help wat ook soos ons begin het, maar ons kan hulle die regte metodes wys.”

Volgens Jason Adams, aanbieder van die opleidingsessie, was dit ’n goed gebalanseerde groep vol entoesiasme, wat die aanbieding baie maklik gemaak het omdat die groep saamgewerk en idees met mekaar gedeel het. Die grootste uitdaging wat die groep in die toekoms te staan kan kom, is die beskikbaarheid van grond en finansiële ondersteuning. Hulle meen egter met genoeg samewerking kan hulle hierdie faktore oorkom. “Ons kan ’n sukses van groenteprodusente in Atlantis maak, het Adams gesê.

“Vroeë blootstelling op ’n jong ouderdom in die landbougebied sal ook tot groter sukses in ons gemeenskappe lei,” meen Adams.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article