“Ons wil net erkenning hê sodat hier orde met die minibustaxi’s en Avanza’s kan wees.”
Dit was die kreet van Christie Prins, voorsitter van die nuwe saamgestelde Blaauwberg- openbare taxivereniging (BPTA), en sy kollegas.
Dié vereniging het Woensdag (7 April) besluit “genoeg is genoeg” en het ’n vreedsame plakkaatbetoging by die Atlantis-winkelsentrum gehou.
Volgens Prins is die groep ongelukkig omdat hulle al langer as twee jaar sukkel om deur die Stad Kaapstad erken te word, ten spyte van ondersteuningsbriewe van Wessie van der Westhuizen, die Subraad 1-bestuurder. Prins sê hulle word “van Pontius na Pilatus” gestuur net om weer voor dooiemansdeur te staan, en dít “terwyl die wetteloosheid met taxi’s voortduur,” vertel hy.
Volgens Prins kan orde “maklik herstel word” indien hulle erken word.
Hy sê buitelandse taxibestuurders wat plaaslik sake doen, buit nou die situasie uit. “Wat ons sielsongelukkig maak, is een Somaliër wat 40 Avanza’s op die pad het. Dit is hier waar ons probleme begin, aangesien dié man nie omgee wie sy voertuie bestuur nie.”
Bestuurders sonder rybewyse word glo deur die eienaar aangestel, wat tot algehele wanorde in Atlantis lei, meen die voorsitter.
“Ons wat by die reëls hou, word elke dag beskuldig omdat Avanza-bestuurders padvarke is en onbeskof met pendelaars is terwyl die uitlanders en hul makkers die eintlike skurke is.
“Maar ons hande is afgekap omdat hulle weet ons is nie ’n erkende organisasie nie,” vertel Prins.
“Ons wil graag help om reg en orde te herstel en die probleme die hoof te bied, maar sonder erkenning kan ons ook maar net toekyk.”
Volgens Prins en sy bestuurders is hulle moeg van die Stad se argumente dat taxi-eienaars reeds uitbetaal is vir hul permitte. Die groep sê die Stad is moeg van hulle, maar het in DuNoon ’n taxistaanplek van R42 miljoen opgerig.
Prins het aan Weskus Nuus vertel honderde pendelaars is daagliks afhanklik van die bedryf, maar taxibestuurders word slegs erken wanneer die MyCiTi-busdiens staak of ander probleme het.
“Ons as ’n organisasie moet ook weet wat die toekoms vir eienaars inhou en ons wil weet hoekom kan die organisasie ten spyte van al die beloftes nie geregistreer word nie.”





