“Ons werk in ons mandaat om die jeug te bemagtig.”

Só vertel die trotse Dean Goliath, stasiebestuurder by Radio Atlantis.

Volgens Goliath is die stasie deur ’n jeuggroep in Dassenberg gekontak om die nuutgestigte organisasie by te staan met jeugontwikkeling en oor hoe nieregeringsorganisasies werk.

“Dit was nooit ’n moeilike besluit nie omdat dit deel van ons mandaat is,” sê Goliath. “Ons het onmiddellik ingestem om ’n werksessie met die groep te hou.”

Volgens Goliath het hy en Nikkie Pretorius die groep Saterdag (24 April) onder hul vlerk geneem. Van die belangrikste punte wat aangeraak is, was jeugontwikkeling, bemagtiging en die volhoubaarheid van gemeenskaps­organisasies. “Ons het op die vrywilligheid van jeuglede en die voordele om ’n impak in agtergeblewe gemeenskappe te maak, gefokus.”

Volgens Mark Mathese, voorsitter van die nuutgestigte organisasie Youth in Power, is dit verblydend dat Radio Atlantis onmiddellik ná hul versoek reageer het – veral omdat hulle byna moedeloos geraak het omdat niemand hulle wou help nie.

“Ons wil ons jeugdiges bemagtig sodat drank en dwelms nie die oorhand in die gemeenskap – veral onder jeugdiges – moet kry nie,” vertel hy.

Mathese sê hulle sien baie na nog opvolgsessies uit, omdat hulle nog baie het om te leer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article