Inwoners van Falcon’s Place in die Dura-woonstelkompleks sê hulle is keelvol vir die haglike omstandighede waarin hulle moet woon.
Volgens Philna Geduld (55) het sy al twee jaar geen lopende water nie. Sy sê sy moes haar kleinkinders wegstuur omdat hulle gereeld siek word en is al moeg om na die behuisingskantoor te stap om probleme aan te meld.
Volgens die moedelose Geduld bly haar erf vol rioolwater van ander erwe en kan sy nie onthou wanneer laas sy haar eie toilet kon gebruik nie. “Hier was al verskillende werkers, maar die probleem word net nooit opgelos nie en my huis stink na ’n rioolgat,” kla sy.
Volgens Annelize Koopman, ’n buurvrou, kan hulle nie eens hul wasgoed ophang soos die rommel lê nie. Sy erken dat sy nog nie die hulp van raadslede ingekry het nie, maar dit is omdat sy geglo het sy moet by die behuisingskantoor gaan kla.
Inwoners het versigtig nader gestaan om hul klaagliedere te laat hoor.
Inwoners het Weskus Nuus gewys hoe rioolwater in die hele gebied lê en dit laat lyk of hulle “met vlieë boer”.
Volgens Joseph Witbooi, ’n proporsionele raadslid, sê hy het onmiddellik aandag aan die probleem gegee toe Weskus Nuus hom nader en sê die klagte sal binnekort aandag geniet.




