Die voormalige rugbyafrigter van Mamre wat hom as ’n dokter, fotograaf, model-agent, fiksheidsinstrukteur en selfs lesbiese vrou op sosiale media voorgedoen het, het Woensdag 28 April weer in die Atlantis-streekhof verskyn.
Dié 46-jarige verdagte het glo sy personae gebruik om sy slagoffers te kry om onder meer eksplisiete foto’s vir hom te stuur.
Hy is vroeër in Maart aangekeer nadat hy blykbaar nié by sy borgvoorwaardes gehou het nie en is ná drie weke in aanhouding weer vrygelaat. Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sê egter die staat kon nie bewys dat die verdagte wel sy borgvoorwaardes verbreek het nie en sy borgtog is weer ingestel.
Volgens Ntabazalila is die verdagte tans onder huisarres totdat die saak afgehandel is. Hy mag net sy woning vir werk verlaat of om begrafnisse by te woon. Die ander uitsondering is indien die verdagte of sy gesin ’n mediese noodgeval het.
In dié gevalle moet hy die ondersoekbeampte oor sy bewegings inlig aangesien die beampte gemagtig is om sy huis enige tyd van enige dag te kom besoek, sê Ntabazalila.
Die slagoffers, hul familie en vriende is omgekrap omdat die verdagte volgens hulle voorkeur-behandeling by die hof geniet.
Volgens Janine Passenz van die Survivors Haven-organisasie, wat die familie en slagoffers ondersteun, moet die slagoffers daagliks die wêreld verduur terwyl die verdagte nie kans sien om sy slagoffers in die oë te kyk nie. “Ek wil weet hoekom hy met elke verskyning by die hof se agterhekke uitgelaat word,” sê sy.
“Die groep betoog met elke verskyning vreedsaam voor die hof en ons het gehoor hy vrees vir sy lewe, daarom word hy agter uitgelaat. Die polisie kan hom mos na veiligheid begelei, maar dis tyd dat die verdagte moet weet sy slagoffers weet wie hy is,” sê Passenz.
Die verdagte is op 25 Maart 2020 by die werk aangekeer.
Die polisie het op sy persoonlike en werksrekenaar beslag gelê.
Hy staan tereg op aanklagte wat verband hou met statutêre verkragting, verkragting en die vervaardiging van pornografie en kinderpornografie.
Hy is op 14 April 2020 borgtog van R10 000 toegestaan en is streng borgtogvoorwaardes opgelê.
Een daarvan was dat hy hom daagliks by die Atlantis-polisiekantoor moes aanmeld.
Hy moet Dinsdag 8 Junie weer in die hof verskyn.





