Hamlets kan ten spyte van ’n 10-50-nederlaag Saterdag (8 Mei) op sy tuisveld net verbeter.
Hamlets, wat in 2019 na die WP se topliga bevorder is, moes egter byna 16 maande wag om ’n voorsmakie van die liga te kry.
Wedstryde word op die vooraand van WP-klubwedstryde wat eersdaags gaan afskop, streng ingevolge Covid-19- regulasies gespeel en geen toeskouers word tans toegelaat nie – iets wat dalk die tuisspan duur te staan gaan kom.
Die span, wat sy eerste kontak-wedstryd sedert die begin van die korona-pandemie in ’n vriendskaplike wedstryd gehad het, het egter ’n duidelike boodskap aan die afrigterskorps gestuur dat harde werk voorlê. Hamiltons, wat reeds baie jare in die topliga speel en ook voormalige Super-liga A-kampioene en Suid-Afrikaanse klubrugbykampioene is, het uit die staanspoor gewys dat jy in die liga hare op jou tande moet hê en gou die tuisspan op die agtervoet gehad.
Met die tuisspan se voorspelers wat glad nie die mas teen die besoekers kon opkom nie, sal Gavin Passens, die afrigter, dringend aandag aan dié aspek van die spel moet skenk.
Die besoekers het reeds vroeg die tuisspan se swakpunte geïdentifiseer en daarop gefokus. Passens se span is in die vaste skrums gereeld meters teruggedruk en kon ook nie hul springers in die lynstane vind nie, wat die tuisspan baie punte gekos het.
Hamlets het nooit geskroom om sy vlugvoetige agterspelers weg te stuur nie, maar die besoekers se rotsvaste verdediging het die tuisspan gekniehalter. Die besoekers het daarin geslaag om die tuisspan se vinnige spel te vertraag en hom gedwing om foute te maak. Hamlets, wat oor die jare baie swaar op sy lojale toeskouers gesteun het, sal baie vinnig moet aanpas aangesien hy vir eers op sy eie sal wees.
Die tuisspan het laat in die eerste helfte die besoekers se doellyn oorgesteek en skielik was ’n tweede asem by baie spelers te sien. Die besoekers het gaan water drink met die telling op 24-5. Met ’n opwindende tweede helfte in sig het die besoekers vinnig sy tweede asem op die tuisspan met twee verdoelde drieë geblaas. Die tuisspan het die een aanval na die ander weggestuur, maar sy voorspelers kon egter nie vinnige gehalte-balbesit aan die agterlyn verskaf nie terwyl afronding ook ontbreek het.
Hamlets het nog ’n onverdoelde drie gedruk nadat die blitsige heelagter Isaac Davids in die hoekie oorgeval het. Die besoekers het nog twee drieë gedruk om die oorwinning te verseker.
Volgens Passens lê daar harde werk voor voordat sy span eerskomende naweek nog ’n kampioenspan, Durbell, pak. “Ons lynstane en skrumwerk is baie swak en het daartoe bygedra dat ons nie vinnige balbesit kon verseker nie,” sê die afrigter. Volgens Passens sal die span die 2021-seisoen gebruik om eers sy voete te vind aangesien al die spanne se plekke vir die daaropvolgende seisoen verseker is.





