Bertram Vraagom is plaaslike klubs se gunsteling om die nuwe president van die Boland-rugbyunie te word.Foto:


“As daar een mens is wat Boland-rugby weer sy gloriedae kan laat beleef, is dit Bertram Vraagom.”

Só meen Denver Pienaar, voorsitter van Worcester Villagers (Villa). Talle ander plaaslike rugbyklubs voel ook so. “Die rede waarom ons hom ondersteun, is bloot omdat ons die beste vir Boland en al sy klubs wil hê! Ons wil die gety in die Boland omswaai van ’n strompelende unie na ’n wennersunie,” beklemtoon Pienaar.

Met plaaslike klubs in die Weskus wat vierkantig agter Vraagom staan, het nog groot klubs van Boland hul gewig op sosiale media agter dié Weskusser ingegooi.

Vraagom, wat glo ook verseker is van baie van die kleiner klubs se ondersteuning, is tans ’n vroeë gunsteling om as die Boland-rugbyunie (BRU) se nuwe president verkies te word.

Volgens Yaaseen van der Westhuizen, voorsitter van die Saldanha-rugbyklub, is die klub trots op wat Vraagom as speler, afrigter, voorsitter en projek­koördineerder vermag het. Hy meen Vraagom sal BRU met dieselfde passie dien as wat hy dié klub bestuur het.

Roses United van Wellington, ’n voormalige Boland-kampioen, het verrassend ook sy gewig agter Vraagom gegooi. Denzil Domoney, voorsitter van die klub, sê hulle wil ook sien dat die BRU in die belang van klubs, spelers, afrigters, skeidsregters en ondersteuners optree, daarom was hul keuse “nie moeilik nie”.

Paternoster steun ook amptelik vir Vraagom.

Dit gons intussen in Boland-geledere of die verkiesing wel Saterdag 29 Mei gaan plaasvind met die styging in positiewe Covid-19-gevalle in die provinsie.

Gerugte doen ook die ronde dat Bennie van Rooi, die waarnemende president van die BRU, eers wil hê klubs moet besluit of die verkiesing wel op dié dag moet geskied, omdat hy glo die ontslape president se termyn tot 2023 wil uitdien.

Volgens Vraagom kan hulle nie nou omdraai nie, want dit kan dalk tot ’n regsgeding lei en die waarnemende leier nog langer in beheer hou terwyl plaaslike klubs honger is vir verandering. Die ander kandidate wat hul name in die hoed vir die toppos gegooi het, is John Bader van Moorreesburg, Willie Small van Wellington, AK Warnick van Darling, Van Rooi van Ashton (waarnemend) en Klaas Cloete van Wellington (addisionele lid van die bestuur).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article