Bejaardes kan hul naaste Cape Access-sentrum besoek om te registreer om hul entstof-inspuiting te kry.
Die 75 sentrums in die provinsie is verlede week aangekondig en is die plek waar opgeleide personeel bejaardes sal help om vir die tweede fase van die land se Covid-19-inentingsprogram te registreer.
In die eerste fase is noodsaaklike gesondheidswerkers ingeënt, en nou sal inwoners wat 60 jaar of ouer is, die geleentheid kry om die Covid-19-entstof te ontvang.
Hulp by dié sentrum sal pasella wees en deur opgeleide personeel behartig word. “Ons het hierdie sentrums beskikbaar gestel vir registrasie omdat niemand in hierdie inentingsprogram moet agterbly net omdat hulle nie internettoegang het nie. Ons is almal saam hierin, en elke lewe is vir ons belangrik,” sê Alan Winde, Wes-Kaapse Premier.
Leensie Lötter, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, sê mense wat reeds geregistreer het, sal ’n bevestigende SMS ontvang. Hierdie boodskap sal verduidelik waar en wanneer dié mense hul entstof sal ontvang. “In sommige gevalle soos ouetehuise sal uitreikspanne na die organisasie gaan,” verduidelik Lötter.. Besoek www.westerncape.gov.za/cape-access/find-e-centre of skakel 0860 142 142 om vas te stel waar jou naaste Cape Access-sentrum is. Andersins, besoek www.westerncape.gov.za of skakel *134*832# of stuur ’n WhatsApp-boodskap met “REGISTER” na 0600 123456, om self te registreer.



