Kaylim George, Randolph Kiewiets en Micaela Jansen sê hulle sien daarna uit om hul kennis in die gemeenskap terug te ploeg. Foto: Murphy Roberts


Nie eens die Covid-pandemie kon ’n groep jong mense van Atlantis, Pella en Mamre verhinder om hul droom na te streef nie.

Die groep het ’n ses maande lange kursus in water- en afvalbestuur voltooi en kan hulself met trots gekwalifiseerde junior water- en afvalbestuurders noem.

Hul gradeplegtigheid is Vrydag 14 Mei by die Atlantis- spesiale ekonomiese sone (Asez) se kantoor gehou.

Volgens Christelle Solomons van die Asez het baie studente uitdagings gehad omdat hulle baie kere aanlyn moes wees en sommige nie hul eie rekenaars het nie. Die groep was oorwegend jong vroue, las Solomons bly.

“Dit is ons eerste groep afgestudeerde studente en ons is verskriklik trots op veral ons jong vroue wat hulle in hierdie skaars vaardigheid bekwaam het, veral in die lig van die uitdagings rakende water in Suid-Afrika,” vertel Solomons.

Die jong bestuurders sê hulle wil graag ’n verskil in hul gemeenskap maak en meen dit is belangrik om kennis terug te ploeg.

Volgens Micaela Jansen van Saxonsea, Kaylim George van Sherwood Park en Randolph Kiewiets van Protea Park, het hulle reeds begin terugploeg met die kennis wat hulle opgedoen het. Dié drie studente het reeds met skoonmaakprojekte in hul onderskeie buurte begin en verduidelik werkloosheid en die verskriklike toestande van hul buurte het ’n groot rol in hul besluit om die kursus te voltooi gehad. Hulle vertel ook trots hoe hulle nou danksy die opleiding in afvalbestuur daarna uitsien om ’n onderneming te begin.

“Ons sien nou weer uit na die toekoms danksy die geleentheid wat die Atlantis- spesiale ekonomiese sone ons bied,” vertel George.

“Ons kan gewis ’n positiewe bydrae tot ons gemeenskap lewer en baie geleenthede bestaan as ons gebruik wat na ons kant toe kom,” meen Jansen.

Volgens Solomons het Princetop Corporate Training die opleiding verskaf met die hoofdoel om jeugdiges voor te berei vir ’n loopbaan in water- en afvalbestuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article